FeaturesInnibos NuusLifestyle

Resensie: Daa’ Gaat die Bruid!

'n Titseltjie introspeksie te midde van die Innibos-feesgewoel.

Paul Boekkooi

Daa’ Gaat die Bruid!, deur Ray Cooney en John Chapman.
Vertaling: Frans Swart
Met Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Roussouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh
Regie: Frans Swart

Kom ons maak vinnig, te midde van die Innibos-feesgewoel, eers ruimte vir ‘n klein titseltjie introspeksie. Die vraag wat jy vir jouself eerlik moet beantwoord, is: Waarom bly die massas van ernstige dramas en in ‘n mate selfs van sommige komedies af weg, terwyl hulle só na klugte stroom dat die geselskap gewooonlik een of twee ekstra vertonings moet inpas om aan die vraag te voldoen?

Daar gaat die bruid (4) (Medium)
Al vanaf antieke tye is die antwoord heel eenvoudig. Dit wat mense in klugte sê, uitbeeld en aanvang is in ons eie oë ver benede ons. As dit nie so was nie, sou ons nie kon lag nie. Dit is ook die rede waarom iemand soos Jeanne Goosen reeds in 1990 ’n roman kon publiseer met die titel Ons is nie almal so nie. Dis so ‘n lekker gevoel wat jou oorspoel wanneer jy jouself troos dat jy darem beter daaraan toe is as die onbeholpe sukkelaars in die boek of op die verhoog.
Lefra Produksies se klugte is ‘n vaste instelling by die meerderheid van Afrikaanse kunstefeeste. Hul jongste vertaalde een is Daa’ Gaat die Bruid deur die Britse woordsmids Ray Cooney en John Chapman wat met teatrale kundigheid asook vindingrykheid deur die regisseur Frans Swart van ‘n Afrikaanse teks voorsien is. Hy laat Afrikaans tintel op ’n verhoog wat alle heilige koeie lank reeds oorboord gegooi het.
Oorspronklik besit dié stuk ook musiekblyspel-elemente. Swart het in sy verwerking dié aspek genadiglik uitgelaat. In baie opsigte moet ons heimlik dankbaar wees dat Afrikaans g’n music hall-tradisie het nie. Die meeste van ons musiek is immers vervelig verby.
Dié nuwe aanbieding het reeds wyd getoer en sal dit vir die res van die jaar bly doen. Dit is net ‘n fraksie meer bedees as verlede jaar se dol en frenetiese My Boetie se Boetie se Boetie se Baba. Bowendien is dit nog nooit tevore in Afrikaans opgevoer nie.
‘n Troue staan sentraal en almal wat iets van dié onderwerp af weet, besef reeds dat dinge lelik verkeerd kan loop – veral op die troudag self. By dié troue is dit nie soseer die bruidspaar self wat aan die pen ry nie (onregstreeks tog ook wel), maar eerder hulle familielede en in besonder die bruid se pa, Malan – wonderlik malkop gespeel deur Cobus Venter – wat dinge van vroegoggend af begin verongeluk.
‘n Tipies Britse tradisie is vernuftig in dié klug toegepas. Pa Malan is die hoof van ‘n suksesvolle advertensiemaatskappy en ‘n wulpse plakkaatmeisie, Polly (Ana van Achterbergh), wat hulle in ‘n veldtog gebruik, word skielik lewend op die verhoog. Sy agtervolg vir Malan, redeneer, val hom in die rede, baklei en probeer hom selfs verlei terwyl hy nog ‘n paar laaste sakies voor die troue moet afhandel. Sy is dus ‘n spook wat net Malan kan sien, hoor en voel, maar niemand anders nie. Die toepassing van dié teaterwerktuig word die enjinkamer van dié klug.
Verder wil ‘n mens liefs nie meer besonderhede verklap nie omdat dit die verrassingselement kan bederf, maar die ensemble van spelers hanteer Daa’ Gaat die Bruid feitlik deur die bank met ‘n flambojante graad van verhoogvakmanskap.
Onder hulle wat die sterkste uitstaan, is Edrien Erasmus in die rol van Judy, die bruid se ma, Marga van Rooy as die reeds ietwat siniele ouma wat niks wat uit haar haar mond keer nie, die knorrige oupa (Lieb Bester) en Phillru van Achterberg wat as ’n assistent die soms bykans chaotiese verloop van dinge op die spoor moet hou.

Back to top button