Resensie: Beautiful, Beautiful Hymns deur Rocco de Villiers

Presies die soort musiek wat Rocco se aanhangers sal begeester.

Paul Boekkooi

Beautiful, Beautiful Hymns deur Rocco de Villiers

Met Rocco de Villiers (klavier), Lizelle le Roux (viool), Pieter van den Berg (orrel) en Sheldon Beangstrom (doedelsak).

Musiekregie: Rocco de Villiers

Die pianis Rocco de Villiers is ‘n rêrige voetsoldaat van die klawerbord. Hy kry jaarliks fassinerende temagelaaide vertonings op die pad wat enersyds baie vermaaklik is, maar jou as toehoorder ook so ietwat wil onderrig. Sy jongste een, Beautiful, Beautiful Hymns, is in sy eie woorde die resultaat van ‘n besoek aan ‘n erediens ná ‘n afwesigheid van ‘n paar dekades.
“Dinge het baie verander,” het hy sy Montecasino-gehoor’n paar maande gelede vertel. “Oorspronklik was daar mos net ‘n orrel in die kerk, maar nou is daar ‘n band wat dinge heelwat lewendiger maak. Magtig, dis nogal ‘n skok…” Sy nuwe vertoning is deels, wat gesange betref, ‘n terugskouing na die grootste religieuse treffers uit sy jeug, maar ook lateres wat hy teëgekom het soos wat sy loopbaan as pianis uitgebrei het.
Benewens Rocco se vermaarde maar ook soms ietwat eklektiese klavierspel (dink gerus terug aan die tipiese skermeruur cocktail-pianiste van die jare toet), het hy hier ‘n klein groepie instrumentaliste byeengebring wat daarin slaag om die konsert verder te besiel met ‘n verskeidenheid van klanke wat die oor prikkel en tegelyk streel.
Die violis Lizelle le Roux is ‘n groot aanwins in haar uitvoering van Rocco se verwerkings wat heelwat obligate werk insluit. Haar aandeel het ruim en wyd bygedra tot die religieuse ambiance wat die musikante geskep het.
Estian Zietsman met sy doedelsak het by Montecasino uitgeblink op hierdie uitdagende en temperamentele musiekinstrument. In ‘n kort onderhoud wat Rocco met hom voer, het Estian onder andere verduidelik presies hóé daardie skreeuende instrument werk wat soms klink soos ‘n koor van hadidas op steroïede wat nie weet hoe om op te hou nie. Nietemin, sy weergawe van die gewilde Highland Cathedral was voortreflik.
Pieter van den Berg het gedoen wat hy moes doen op die elektroniese orrel sodat die verskeidenheid van gesange minstens met waardigheid omspoel kon word. ‘n Mens sou moontlik ‘n enkele stuk in dié vertoning verwelkom het waarmee Van den Berg met improvisasie in ‘n rock-styl à la Cameron Carpenter kon uithaak.
Beautiful, Beautiful Hymns besit, soos die meerderheid van Rocco se vertonings, knap gekose dosisse rondom nostalgie. Sy tuisdorp, Harrismith in die Vrystaat, staan altyd sentraal. Hy herinner ons daaraan watter oorweldige indruk die veteraan-sangpaar Min Shaw en Lance James op hom as kind gemaak het tydens hul optrede in hulle stadsaal.
In ‘n ander onderdeel gesels Rocco oor die kontraste en invloede wat hy ervaar het in ‘n vergelyking tussen Lady Gaga en die Mormoonse Tabernakelkoor. Vervelige oomblikke in dié vertoning kan ‘n mens slegs op een-en-’n-halwe vinger van jou hand tel.
Rocco de Villiers trakteer ons ook op ‘n viertal of so van sy eie komposisies. Hulle klink soms so ietwat dieselfde, maar in elke ander opsig is hierdie religieuse top-20 treffersparade wat die kern van Beautiful, Beautiful Hymns uitmaak, presies die soort musiek wat sy aanhangers sal begeester.

Let wel: Rocco de Villiers se Beautiful, Beautiful Hymns is ‘n konsertweergawe in ‘n kerk van sy vertoning en CD getiteld Amazing Grace wat vroeër vanjaar by Montecasino op die planke was. Daar is nou, by Innibos, minder dramatiese tonele of kostuums as wat dit by Montecasino die geval was, maar ál die musiek en Rocco se vertellings is steeds deel daarvan. Estian Zietsman, die doedelsakspeler, word vir die Nelspruit optredes vervang deur Sheldon Beangstrom.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version