Annatjie Myburgh herinner ons weer aan liefde en omgee

Ongeag ras of klas, oor alle grense heen, het die Laeveld-gemeenskap saamgestaan om haar te probeer kry.

Ek het Sondag so teen halfeen by die hotel in Sao Paulo, Brasilië na ‘n vlug van Colombië, ingestap. My kollega, Elize Parker, het vir my ‘n pragtige stuk skryfwerk gestuur oor hoe die gemeenskap hulle na geloof gewend het met Annatjie Myburgh se verdwyning.

Nadat ek dit gelees het, het ek aan haar ‘n WhatsApp gestuur en bedank dat sy die liefde van ons gemeenskap só raak in hierdie donker tyd beskryf het. Hier in Suid-Afrika was dit reeds halfses die oggend. Sy het my geantwoord – Annatjie Myburgh is dood.

En daar in die vreemde het ek hard gehuil oor hierdie vrou, ma en ouma wat weg is. Ek het haar nie geken nie, maar dit het gevoel asof ek haar in die vier dae vanaf haar verdwyning goed leer ken het. In daardie tyd het ek elke verwikkeling op sosiale media en aanlyn-webwerwe gevolg en gebid dat hulle haar sou kry.

Een ding het soos ‘n paal bo water uitgestaan, ongeag ras of klas, oor alle grense heen, het die Laeveld-gemeenskap saamgestaan om haar te probeer kry. Sonder om te aarsel het mense met hul voertuie in die plantasies en areas waar sy moontlik kon wees gaan soek; ander het kos en iets te drinke aangedra en so hul ondersteuning gewys en oral het mense in gebed saamgekom.

Die polisie en sekuriteitsmaatskappye het onverpoosd gewerk en nooit tou opgegooi nie.
In die vroeë oggendure het mense nog op die “Bid vir Annatjie Myburgh”-Facebook-groep rondgedwaal en mekaar bemoedig. Een vrou het geskryf dat sy nie kon slaap nie, dit was koud buite en sy het skuldig gevoel om in ‘n warm bed te lê met die wete dat Annatjie dalk iewers koud kry. En toe begin die res van die lede op die groep laat weet hulle is ook nog wakker al was dit byna drie uur in die môre. Niemand kon tot rus kom nie.

Dit was lang dae en nagte. Ek het my probeer indink hoe die Myburgh-gesin in dié tyd moes voel. My eie sussie is amper so oud soos Annatjie, en ek het gewonder wat ek sou doen as dit sy was. Dit was te erg om eers daaraan te dink.

Môre word Annatjie Myburgh ter ruste gelê en ons wil ons innige meegevoel met haar familie en vriende betuig. Ons groet ook vir Annatjie met dié woorde: “Jy het ons weer aan liefde en omgee herinner. Jy het ons weer laat dink aan familie, vergifnis en verdraagsaamheid. Jy het ons nader aan God gebring. Ons gun jou die rus en die vrede.”

Exit mobile version