Laeveldse soetlief kom met soetgebak by Innibos bekoor

Oud-Nelspruiter, sjef Anmar Odendal gaan by die Kos-crawl te siene wees.

MBOMBELA – Mooi was nog nooit lelik nie en lekker ook nog nooit sleg nie. Veral as dit by sjef Anmar Odendal se soetgebak kom. Dié flambojante en energieke kok en oud-Laevelder is veral in Engeland bekend vir haar kreatiewe en innoverende versiering van koeke en ander lekkernye.

Anmar Odendaal.

Sy is die jaar tydens Innibos se jaarlikse kykNET Kos-crawl hier in die stad te sien. Dié produksie, wat soos kroegkruip is maar net met kos, is een van die mees gewilde disse op die Innibos-spyskaart.
Feesgangers klim op ‘n bus wat hulle na vier verskillende aandoenplekke op die Hoërskool Nelspruit-terrein neem en daar kuier sjefs, kunstenaars, kokke- en koekedore saam. Dit is dan by vanjaar se vierde stop, H2M langs die swembad waar Odendal al die pad uit Engeland in aksie te sien gaan wees saam met storieverteller Andries Vermeulen, wat ‘n paar staaltjies oor koeke en kos het.
Odendal het verlede jaar in Maart ook ‘n draai in die area gemaak waar sy ‘n meestersklas in macarons en mini-meringue aangebied het. Sy is onder die top-20 troukoekbakkers van die Verenigde Koninkryk en is in 2012 as die beste troukoekontwerper in die ooste van Engeland aangewys
Sy is tans soetbakker van die Swan Hotel en Spa in Lavenham, Suffolk, waarvandaan sy ook haar troukoekbesigheid, Crumb, bedryf.

Probeer gerus: Anmar se spesiale gebakte eier-koffiekoekieresep


Maar dit is juis hier in die Hoërskool Nelspruit-kombuise waar Odendal se belangstelling begin het. Kosmaak en bak is al baie lank deel van haar lewe: “My ma is ‘n restauranteienaar en ek het maar in die hotelbedryf grootgeword,” vertel sy. “Ek is altyd verskriklik jaloers as dit Innibos-tyd is en ek aan die anderkant van die wêreld sit, maar dié jaar kan ek self deel wees van die kos-crawl, en boonop nogal by my skool, so dit gaan verskriklik nostalgies wees,” sê sy.

Dié oud-Nellie is ook nog al die tyd in kontak met haar hotelbestuur- en spyseniering-onderwyseres, Juffrou van Rensburg, wat haar aangeraai het om ‘n loopbaan in dié bedryf te volg na sy in 2001 gematrikuleer het.

So het sy sjef geword by die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch, onder andere by die Cape Grace hotel in Kaapstad en by Word of Mouth Catering in Johannesburg gewerk waarna sy haar visier op internasionale waters gestel het. Na vyf jaar op skepe en as sjef vir ‘n Britse familie het sy in Engeland beland waar sy bak dat die biesies bewe, want die Swan is veral vir sy middagtee bekend. Sy tree ook by kosfeeste op waar sy kookdemonstrasies doen, haar resepte is gereeld in leefstyltydskrifte in die area en sy hou haar ook besig met kosstilering en -fotografie.

Een van Anmar se meesterstukke.

Dit is juis die presisie en kreatiwiteit wat vir Odendal aanloklik is. “Daar is geen beperkings as dit by gebak kom nie. Mense weet nou al dat ek altyd ‘n twist op dinge sit. Ek is mal oor vernuwing van ou idees en resepte.” Hoewel daar altyd ‘n plek is vir fyngebak, bly troukoeke tog haar gunsteling. “Om ‘n troukoek af te lewer en te sien hoe dit die hele funksie bymekaar bring, is altyd ‘n hoogtepunt.”

Wanneer Odendal nie in die kombuis is nie, doen sy roller derby.”Dis soort van ‘n mengsel tussen rugby en Nascar, net op rolskaatse,” verduidelik sy. Sy is al ‘n jaar in die Suffolk-gemengde en -vrouespan en neem tans deel aan die 2016 Britse kampioenskappe. Haar droom is egter om in die wêreldbeker vir Suid-Afrika te speel.
Die Roller Derby-span.

Wat kan ons van haar verwag tydens die jaar se kykNET Kos-crawl? “Ek gaan met vernuwing rondspeel en ‘n nuwe baadjie vir ‘n ou Suid-Afrikaanse gunsteling aantrek.” Boonop sal sy ook demonstreer hoe om haar ikoniese skuimpies te maak en hulle in menige nageregte, en om koeke te versier, te gebruik.

Anmar se ikoniese skuimpies.

• Vanjaar se kykNET Kos-crawl sluit in Bertus Basson, Tiaan Langenegger, Jak de Priester, Nicolas van der Walt, Anmar Odendal en Andries Vermeulen. Busse vertrek Vrydag 1 Julie om 09:00, 11:00 en 13:00 vanaf die NG-gemeente Westergloed in Koraalboomstraat en duur 240 minute. Kry jou kaartjies betyds! Besoekpunte sluit in Huis Hermann Davin, Fleur de Lis Restaurant, Huis Maré en H2M langs die swembad.

Sien lowvelder.co.za/innibos vir die volledige Innibos 2016-feesgids. Volg ook vir Anmar op Twitter: @crumb_suffolk

 

Lees ook: 

It’s all about the cake!

Exit mobile version