Anmar se gebakte eier-koffiekoekies

Koekies met 'n kreatiewe kinkel!

Die koekies

Bestanddele
• 200g ongesoute botter
• 200g strooisuiker
• knippie sout
• 1 eier, met ‘n vurk geklits
• 10g kitskoffie, opgelos in 1 eetlepel kookwater
• 400g meel.
Metode
Verhit die oond tot 165 grade Celcius. Klits die botter en suiker saam tot goed gemeng. Voeg die sout, eier en koffie- mengsel by en roer vinnig. Voeg die meel by en roer die mengsel tot dit ‘n deeg vorm. Maak ‘n bal met die deeg en druk plat. So sal die deeg makliker uitrol. Draai die deeg toe in kleefplastiek of bakpapier en laat rus in die yskas vir 30 minute.
Gebruik ‘n stuk karton en sny ‘n vorm van ‘n skyfie brood uit. Dié sal later bo-op die uitgerolde deeg geplaas word en ‘n mens gebruik dan ‘n skerp klein messie om al om die kartonbroodjie te sny. Dit is ‘n maklike manier om ‘n vormpie te kry waarvoor jy nie ‘n koekiedrukker kan vind nie.
Wanneer die deeg klaar gerus het, strooi ‘n bietjie meel op die werksoppervlakte en rol die deeg uit tot ongeveer ‘n 4mm- dikte. Maak seker dat dit nie vassit op die oppervlakte nie en sny nou die koekies uit. Plaas hulle op ‘n bakplaat en bak vir 10 minute tot gaar.

 

Die versiersel


Bestanddele
• 250g gesifte versiersuiker
• 1 eierwit – geklits
• geel voedselkleursel
• fondant
• kakaopoeier
• 10g koffie opgelos in 1 eetlepel kookwater.
Metode
Meng die versiersuiker en die eierwit en roer tot glad. Die mengsel moet dik wees en sy vorm hou. Voeg versiersuiker of eierwit by soos nodig. Deel die mengsel in twee. Meng ‘n bietjie kakaopoeier in een deel van die mengsel in en plaas in ‘n spuitsak.
Trek nou die buitelyne van die “broodjie” reg om die koekie. Neem die oorblywende kakaomengsel en plaas ‘n teelepel van die koffiemengsel by, roer goed tot dit net loperig is en plaas terug in ‘n nuwe spuitsak. Vul nou die hele koekie met die mengsel. Rus die koekies tot die boonste laag uitgedroog is (oornag is die beste).
Gebruik nou die ander wit mengsel en trek die buitelyne van die eier en die eiergeel bo-op die koekie. Voeg ‘n bietjie water by die wit mengsel om dit net loperig te maak en vul die eierwitgedeelte.
Voeg ‘n klein bietjie geel kleursel in ‘n balletjie fondant by en brei tot sag en goed gemeng. Maak ‘n klein balletjie, druk dit plat en plaas in die middel van die eier om die eiergeel te vorm.

Bedien saam met ‘n heerlike koppie koffie.

 

Meer oor sjef Anmar Odendaal

Mooi was nog nooit lelik nie en lekker ook nog nooit sleg nie. Veral as dit by sjef Anmar Odendal se soetgebak kom. Dié flambojante en energieke kok en oud-Laevelder is veral in Engeland bekend vir haar kreatiewe en innoverende versiering van koeke en ander lekkernye.
Sy is die jaar tydens Innibos se jaarlikse kykNET Kos-crawl hier in die stad te sien. Dié produksie, wat soos kroegkruip is maar net met kos, is een van die mees gewilde disse op die Innibos-spyskaart.

 

Lees nog meer oor haar hier: 

Laeveldse soetlief kom met soetgebak by Innibos bekoor

Exit mobile version