Annatjie Myburgh: Vrydagoggend

Ons het nou al letterlik oral gesoek. Barberton, Malalane, Lydenburg... Oral. Ons verminder nou die aantal mense wat aktief aan die soektog deelneem

WITRIVIER – Alhoewel die soektog na Annatjie Myburgh laat gistermiddag afgeskaal is, is dit nie afgelas nie.

Talle misdaadondersoekspesialiste, wat lede van sekuriteitsmaatskappye, die polisie en Bossie’s Community Justice (BCJ) insluit, het gisteraand onverpoos na Myburgh bly soek.

“Inligting tot ons beskikking is beperk, maar die ondersoek word volgens die inligting wat ons wel ontvang, beplan en uitgevoer.  Sodra ons ‘n spesifieke area kan afbaken wat weer deursoek moet word, sal ons die gemeenskap inlig,” het BCJ se operasionele beampte, mnr. Albert Greyvenstein, vanoggend gesê.  Hy het die gemeenskap vir hul hulp in die ondersoek bedank.

“Ons hou aan soek,” het hy Laevelder herhaaldelik verseker.

Laevelder het gister berig:

WITRIVIER – Die soektog na me. Annatjie Myburgh, wat gisteroggend vermoedelik gekaap en ontvoer is, word nou afgeskaal.

Kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die polisie se duikeenheid op Witrivier, het pas benadruk dat hulle die soektog nié aflas nie, maar wel afskaal.

Lees ook: Annatjie Myburgh: nog geen teken van haar of haar voertuig

“Ons het nou al letterlik oral gesoek. Barberton, Malalane, Lydenburg… Oral. Ons verminder nou die aantal mense wat aktief aan die soektog deelneem,” het hy gesê.

Die soekgeselskap het pas vergader by Casterbridge om op ‘n nuwe plan van aksie te besluit. Bossies Community Justice, Divergent Ops en sommige lede van die polisie gaan wel voort met die soektog, in ‘n noordoostelike rigting van Witrivier, in die omgewing van Klipkoppie-dam.

“Ons het nog geen nuwe inligting rondom Myburgh of die Pajero ontvang nie,” het mnr. Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice gesê.

“Ons is baie dankbaar teenoor almal wat gehelp het. Vier vliegtuie en honderde motorfietse het gehelp en ons kan ‘n area wat honderde kilometer beslaan, deursoek. Ons alleen sou nooit só ‘n groot area in só ‘n kort area kon fynkam nie,” het Potgieter benadruk.

Die pendoppie is waar me. Annatjie Myburgh vermis geraak het. Die groen spikkels is waar orals na haar en haar voertuig gesoek is.

 

 

 

 

 

Exit mobile version