Innibos gaan hard rock vanjaar – en rockers se drome waar maak

Vanjaar is die eerste keer dat Innibos die RockRumoer, wat op 29 Junie plaasvind, aanbied.

MBOMBELA – Die 13de Innibos Nasionale Kunstefees beloof om harder te rock as ooit tevore, en soos die afskop naderkruip, bou die opwinding op na die rock band-kompetisie.

Vanjaar is die eerste keer dat Innibos die RockRumoer, wat op 29 Junie plaasvind, aanbied. Dit het verlede jaar al afgeskop toe die publiek vir hulle gunsteling-nuweling-groepe wat van regoor die land ingeksryf het, kon stem.

Uit hierdie stemme is die top 10 verlede maand aangewys, en feesgangers kan uitsien na ‘n battle of the bands soos die stad nog nooit vantevore gesien het nie. Al 10 groepe sal dit dan op die MK-rockverhoog uitstoei om harte te wen – én die beoordelaars se guns.

‘n Keuringspaneel bestaande uit bekende rockers en kenners uit die musiekbedryf sal die aand twee groepe aanwys wat plekke op Innibos se hoofverhoog sal losslaan. Hulle sal dan die Donderdagaand die hoofverhoog met Karen Zoid, Kahn Morbee, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Black Cat Bones, Dan Patlansky en Albert Frost deel.

Een van die twee groepe sal daarna as wenner uit die stryd tree, met prysgeld van R25 000. Pryse sal ook aan die beste sanger, kitaarspeler, tromspeler en baskitaarspeler toegeken word. Elkeen van dié wenners kry R1 000. Daar is twee plaaslike groepe onder die top-10 finaliste.

The Unknown en Backstage is beide woonagtig in die Laeveld. Die ander deelnemers is Held On Till May, Drywater, Out Cry, Vintage Kings, Tuin, Wit Kasteel, Indigo Reign en Jonathan Peyper Trio.

Innibos weet groepe betaal meestal meer om by gigs uit te kom as wat hulle verdien, daarom word ‘n reistoelaag, slaapplek in ‘n koshuis en eetbewyse aan al 10 finaliste verskaf.

“Daar is ‘n magdom talentvolle rockers wat verdien om gehoor te word, en met die RockRumoer-kompetisie wil Innibos-kunstefees hulle ‘n kans gee,” sê die fees se Adelene Niehaus, projekbestuurder van die RockRumoer-kompetisie.

“Met die bystand van uitsonderlike tegnici in klank en beligting, glo ek ons gaan lekker verras wees deur die gehalte van die bands. Ons hoop die RockRumoer word dié kompetisie waar nuwe rockers hulle kan laat geld.”

Exit mobile version