EntertainmentFeaturesInnibos NuusLifestyleReviews

Kevin Leo betower keer op keer

"'n Mens het musiekkennis en tegniese opleiding, maar die 'magic' lê in hoe jy mense se harte met musiek aanraak. " - Kevin Leo

MBOMBELA – Dit is al 22 jaar sedert Kevin Leo sy eerste album uitgereik het en sy gewildheid neem steeds toe. Hierdie sanger, wat vroeër in sy lewe tydens ‘n Italiaanse operakompetisie as “klein Pavarotti” gedoop is, het Innibos-feesgangers vanjaar weer met sy stem getrakteer.

Hy was twee aande op die Standard Bank-hoofverhoog te sien en dié gesoute tenoor het die gehoor na hul asems laat snak.

Laevelder het met Kevin ‘n geselsie aangeknoop. “Ja, kan jy glo dis al meer as 20 jaar?” het hy gesê-vra oor sy sangloopbaan. Kevin vertel dat sy debuutalbum in 1995, C’est la vie, die begin van sy seëning van ‘n loopbaan was.

Twee jaar later het hy met Danie Niehaus en Mathys Roets begin saamwerk en hulle het gehore se harte gewen met die Drie van die bestes-ensemble.

Oor sy “klein Pavarotti”-bynaam vertel Kevin dat hy in Junie 2006 aan Valsesa Musica, Italië se internasionale opera-kompetisie, deelgeneem het. Die president van die konsert het hom tydens die wennerskonsert as Klein Pavarotti, of ‘Pavarotti e Poco,’ voorgestel. Wanneer hy lostrek met O Sole Mio, kan ‘n mens verstaan hoekom.

Een van ons land se mees geliefde musieklegendes, Gé Korsten, is deur Kevin se Lied van my Lewe-huldeblyk onthou. Die Korsten-gesin het Leo hierin ondersteun deur te sê dat hy die ideale man vir so ‘n huldeblyk is en die eindproduk is ‘n nostalgiese reis wat hart en siel roer. Dit is juis die titelsnit uit hierdie huldeblyk wat feesgangers Donderdagaand tydens die kykNET Legendes-konsert geroer het.

Jakkals en Leo, ‘n gevierde produksie waarin Kevin saam met Jakkie Louw te sien is, vermaak die land die afgelope paar maande. Hulle CD, Jakkals en Leo, is in Februarie vanjaar vrygestel en vlieg van toonaangewende musiekwinkels se rakke af teen dieselfde tempo as wat kaartjies vir die vertoning uitverkoop.

Vir Kevin gaan dit nie oor die jare studie waarmee jy kan spog nie, maar oor wat jou musiek met mense se harte doen. “‘n Mens het musiekkennis en tegniese opleiding, maar die ‘magic’ lê in hoe jy mense se harte met musiek aanraak. “Dis wat van jou ‘n hartsmusikant maak. Daardie oomblik waar jy agterkom jy raak iemand is ongelooflik.” Kevin is nederig oor sy talent. “My vermoë kom nie van my af nie, dis ‘n gawe van Bo.”

Back to top button