Die woema van ‘n windgat wyfie – Resensie deur Paul Boekkooi

Barry van Rensburg se debuut eenvrou-stuk as skrywer-dramaturg is helaas nie van dieselfde stoffasie as sy nou reeds bekende “gat”-trilogie waarmee hy oor die afgelope bykans vier jaar lof ingeoes het nie. 

Met Sharleen Surtie-Richards
Regie: André Stolz

Dalk is die rede hiervoor ook weer ‘n geval van “meer van dieselfde” en stomp dit ‘n mens vir daardie rede ietwat af. Die oorspronklikheid en varsheid van sy humor waarvoor hy tereg bekendheid verwerf het, voel hier soms as synde net ietwat té geforseerd.

As eenpersoonstuk is dit vanselfsprekend gelaai met monoloë, terwyl Surtie-Richards as Veronica byvoorbeeld die stemme van haar drie vrindinne, Sally, Henriette en Bunny, perfek en konsekwent naboots wat opsigself iets van ‘n tour de force verteenwoordig.

Van die belowende spel met woorde aan die begin – soos die “gat-kat” en “hardegat-hardekwas” – verwag ‘n mens dat dit verder uitgebou sou kon word, maar dit raak so effens vervelig al is die word “gat” volksbesit en dalk net effens te dikwels só, soos in een van haar uitsprake: “Daai vetgat is getroud met daardie dronkgat.”

Woema se beste onderdele is wanneer die karakter stories begin vertel en enkele briljante eensin-insetsels, soos die een wat terloops noem dat “kleptomane die show steel”. Persoonlik het ek baie moed gehad dat die onderdeel waar “dating sites” aan die beurt kom baie snaaks sou kon uitdraai, maar daar is te min uitsonderlik tipiese situasies wat binne die konteks van dié onderwerp na vore gekom het.

Die meerderheid daarvan het op gemeenplase berus waarvan elkeen wat ooit op die internet sou begin vry het van bewus sou wees.
Miskien moes dié stuk ‘n sterker rypingsproses deurgaan het. Daar is enkele juweeltjies aan die orde, maar na alles ervaar hierdie kyker ook die einde ietwat kunsmatig, uitgerek en uiteindelik te prekerig.

Windgat Woema Wyfie - Benno Stander-2
Exit mobile version