Editor's note

Die vreemde lewe van ‘n joernalis

Die dag wat jy besluit om ‘n joernalis te word, moet jy maar begin aanvaar dat jy heelwat ongewone dinge gaan beleef en in vreemde situasies gaan beland.

Die handvol jare wat ek al as joernalis werk het my met ‘n vrees vir sirenes, ‘n bereidheid om saam met vreemde mense na vreemde plekke te gaan en ‘n baie goeie google-vermoë gelaat.

Die eersgenoemde is deur ‘n voormalige redakteur van my veroorsaak, ‘n briljante veteraan-joernalis wat sy groentjies ambulanse, polisievoertuie en brandweervragmotors laat jaag het. Dit het beteken dat ek al by ‘n verskeidenheid botsings en optogte gaan foto’s neem het, insluitend ‘n trein en onderhoudsvragmotor wat gebots het, ‘n seun wat op sy 21ste verjaarsdag uit sy voertuig gesny moes word (hy het dit wonderbaarlik oorleef) en deur ‘n groep stakende munisipale werkers in ‘n straat afgejaag is.

Ek het ook een reënerige dag ‘n vragmotor gaan afneem wat op die nat padoppervlakte gegly het en toe skuins op die ryvlak van ‘n brug oor ‘n dam tot stilstand gekom het. Die bestuurder het egter spoorloos verdwyn en daar is bespiegel of hy op een of ander manier in die water beland het en of hy dalk in die nabygeleë denneplantasies in verdwyn het.

Die raaisel is egter drie dae later opgelos toe ‘n arme visserman tot sy skok op ‘n drywende lyk afgekom het. Dit was fassinerend om te sien hoe reddingswerkers te werk gaan om die lyk aan wal te kry.

Onlangs het ek ook toegekyk hoe reddingswerkers en die brandweer ‘n brandende bus op die R40 blus. Dit was vreeslik interessant om te sien hoe forensiese deskundiges te werk gaan en ek was selfs (per ongeluk) op ‘n foto wat deur nasionale media op televisie en in sosiale media vertoon is.

Daar is egter ook snaakse oomblikke, soos die tannie wat gebel het om te kla oor die winkel wat te min rosyntjies in hulle paasbroodjies sit of die omie wat moeg was vir die tannies in die ouetehuis en ‘n nuwe lewensmaat gesoek het. Ek weet steeds nie of die laasgenoemde dalk net ‘n poets deur ‘n kollega was nie en of die bewende stemmetjie dalk wel ‘n nuwe liefde by die alleenlopersklub raakgeloop het nie.

Die tweede punt, my bereidheid om enige plek saam met vreemdes te gaan, is nie ‘n ongewone een vir ‘n joernalis nie. Jy onmoontlik al jou lesers en gemeenskapslede ken en as iemand ‘n interessante storie of wenk gee, het jy geen keuse as om hulle te volg nie. Dit beteken ook dat jy altyd ‘n volgelaaide selfoon moet hê, iemand moet laat weet waar jy is en kennis van selfverdediging moet hê.

Weens die feit dat ‘n joernalis redelik baie navorsing moet doen en ek op die PUK deur stapels boeke en vreemde plekke op die internet moes soek vir inligting om take te voltooi, is ek redelik goed geskoei in die kuns van google. Dit is die vinnigste manier om woorde, definisies en feite op te soek en my gespreksgenote hoor gereeld die woorde “Ek sal dit gou google.”

Ten spyte van die vreemde en soms ontstellende dinge wat ek beleef of dalk selfs omdat ek van soveel interessante stories te hore kom, sien ek uit na die volgende ervaring wat ek eendag as gryse veteraan met groentjies sal kan deel.

Back to top button