Editor's note

“Man is the cruelest animal”

Toe ‘n video hierdie week aan ons gestuur is waar ‘n boerbok letterlik onder die hande van ‘n woedende man deurloop, was elke persoon wat dit gesien het, in skok gelaat.

“The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated.” Dit is die woorde van Mahatma Gandhi.

Gemeet hieraan slaag ons gewis nie die toets van ‘n uitsonderlike nasie nie. Toe ‘n video hierdie week aan ons gestuur is waar ‘n boerbok letterlik onder die hande van ‘n woedende man deurloop, was elke persoon wat dit gesien het, in skok gelaat.

Ek het lanklaas iemand gesien wat soveel opgekropte woede op iets of iemand uithaal. My kollega het aan my vertaal wat die SiSwati-sprekende man tydens die insident sê en dit het daaroor gegaan dat die bok in sy erf was en seker maar iets geëet het wat hom nie aangestaan het nie.

Hy vat dan die bok en gaan sit met hom op die grond, vasgeknyp tussen sy bene en begin hom aanhoudend teen die kop slaan. Die hele tyd berispe hy die bok en maak dit duidelik dat hy baie kwaad is.

Dan trek hy die bok se bene oop, slaan hom op die geslagsdele en boude voordat hy opstaan en die bok soos ‘n sak mielies op die grond neergooi. Die persoon wat hierdie daad op video vaslê, dink dis skreeusnaaks en daar kan deurentyd ‘n gelag en gejuig gehoor word.

Die bok se angswekkende geskreeu is amper te veel om aan te hoor. In die gestoei, kom die bok dan los. Hoewel dieselfde bok dalk een of ander tyd in ‘n pot sou opeindig, sou dit baie meer menslik gewees het om sy keel af te sny as om die dier deur sulke hel te laat gaan.

Die vraag wat onmiddellik ontstaan is hoe enigiemand met soveel wreedheid ‘n dier kan aanrand? ‘n Dier is so weerloos en ‘n sagte teiken. Maar hoe gaan hierdie persoon teenoor ‘n kind optree wat dalk iets verkeerd doen? Ek sidder om daaraan te dink.

Op dieselfde dag wat ons die video ontvang het, is die misdaadstatistiek bekendgemaak en dit was geen verrassing dat ‘n ernstige misdaad soos moord, ‘n styging van 16,4 persent gesien het nie.

Dit is selfs hoër as die vergelykende nasionale statistiek.

Al hierdie goed dui op ‘n baie siek samelewing met min of geen respek vir lewe. In die redaksiekantoor word ons op ‘n kras wyse aan die werklikheid blootgestel. Ons publiseer dikwels die afgewaterde weergawe omdat ons besef dat die koerant ‘n publikasie is wat in die huis rondlê en waaraan kinders blootgestel word.

Ons word gereeld van sensasionele beriggewing gekritiseer as ons dalk te veel inligting weergee. Maar daar is tye wat ek hierdie waarhede van die hoogste dakke wil verkondig, bloot omdat ‘n groot persentasie van ons lesers nie besef wat om hulle aangaan nie. Tydens renosterstropery speel daar elke dag die verskriklikste tonele af.

Ons het pas nuwe beeldmateriaal ontvang waar die stropers eers die renoster se rug afgekap het om hom te verlam. Daarna is sy horing verwyder en is die dier net so gelos. Toe die veldwagters by hom kom, was sy oortjies steeds gespits, maar hy moes in onmenslike pyn verkeer het. Hoe lyk die mens wat dit doen?

Ja, ons is almal keelvol vir misdaad, korrupsie en alles negatief. Maar moenie vir een oomblik dink dis maanskyn en rose nie. Stel jouself bloot aan soveel moontlik positiwiteit en probeer om ‘n verskil te maak, maar bly ingelig oor jou omgewing.

Want Friederich Nietzsche het dit nie verniet gesê nie: “Man is the cruelest animal.”

Kyk die video hier onder:

 

Back to top button