Goue status vir Laurika Rauch se nuutste album

Wals, wals Willemien doen dit weer.

MBOMBELA – Laurika Rauch se nuutste album, Wals, wals Willemien, het sopas goue status bereik.

Die eerste snit op die album is getiteld As ek eendag oud is en beklee reeds die eerste plek op ‘n aantal radiostasies se ranglyste.  Murg en Been, die tweede enkelsnit uit die pen van Johan Oberholzer, vaar ook baie goed en is op hoë rotasie geplaas.

Wals, wals Willemien bevatt 14 snitte waarop twee duette saam met die gaskunstenaars Elvis Blue en Joe Niemand verskyn.

Ilse de Beer van Coleske Artists skryf dat Laurika se kenmerkende stem ‘n mens vooraf herinner aan waarom sy nog altyd in ‘n klas van haar eie was en dat die titelsnit van Christoph Kotze ‘n mens sommer vanself laat maathou met die musiek.

Etienne Steyn se As ek eendag oud is, ‘n treffer in eie reg, verskyn ook op hierdie album tesame met Pieter Rademeyer se Liefde uit Stellenbosch.

Kaalvoet begin dans word beskryf as ‘n lied met ‘n skaarse suiwerheid.

Vernette Rautenbach se Bly nog so bietjie (Ek mis jou) is ‘n ou gunsteling wat tot die album toegevoeg is tesame met onder andere Elvis Blue se Die strome van die Drakensberge, Waarheen gaan die tyd, my lam en Kentucky Avenue.

Laurika Rauch se stem en liedjies bly die luisteraar altyd by.

Volgens kritici is Wals, wals Willemien geen uitsondering nie.

Vir meer inligting, besoek www.laurikarauch.com

Exit mobile version