‘n Reis vol avontuur en interessante karakters

Volg twee kinders se avontuur en hul ontdekking van 'n geheime elwekoningkryk in 'n oulike jeugverhaal.

Die meeste kinders droom daarvan om op ‘n avontuur te gaan en allerhande geheime plekke te ontdek. Vir Mattie Moolman en haar beste maat, Henk Velder, word hierdie droom egter ‘n waarheid in Eggo’s in die Skimberge van Kobie Krüger.

Nadat Mattie oplet dat daar aand na aand ‘n sterrereën oor die Skimberge is, oortuig sy Henk om saam met haar te gaan kyk wat daar aangaan.

Die tweetjies pak genoeg voorraad om vir ‘n dag of twee te kan oorleef en vertrek vroegoggend op Mattie se oupa se ou vlot met die rivier af. ‘n Waterval krap hulle planne egter om en die kinders slaag net-net daarin om uit die onstuimige rivier te swem.

Hulle begin dan maar stap en probeer weer die pad huis toe kry, maar beland in die elwekoninkryk van Loherin.

In hierdie koninkryk in die diep kloof raak hulle betrokke in die soektog na die elwekoningin se twee kinders wat jare gelede spoorloos verdwyn het.

Dit is egter net die begin van ‘n reis wat die twee beste vriende se lewens handomkeer sal verander.

As jy gek is na avontuur en fantasie, sal jy vinnig in hierdie boek verdiep raak. Dit het hope boeiende en interessante karakters en Krüger beskryf die tonele so goed dat dit byna voel asof jy daar is.

Een leser kan ‘n kopie van Eggo’s in die Skimberge wen deur ‘n maklike vraag te antwoord:

Wat is die naam van die elwekoninkryk wat Mattie en Henk in die ravyn vind?

Die sluitingsdatum is 20 Junie om 15:00.

Sien bepalings en voorwaardes hier.

Exit mobile version