EntertainmentLifestyleReviews

Intrige en misterie in die Harkerville-woud

Zahn wou net 'n rustige vakansie by die huis gehad het, maar haar suster sleep haar saam vir 'n vakansie saam met hul vervreemde pa. Hul bestemming in die Harkerville-woud sorg ook dat nie Zahn of haar suster verveeld raak nie.

Of jy nou ‘n perd het of dalk nog altyd gedroom het om ene te hê, Brigadier en die Raaiselponie van Marga Jonker sal beslis vir jou ‘n paar uur se leesgenot oor perde, tieners en intrige besorg.

Die jeugverhaal se hoofkarakters is Zahn en haar perd Brigadier en speel af op ‘n vakansieplaas in die Harkerville-woud naby Plettenbergbaai.

Zahn se ouers is geskei toe sy en haar suster nog klein was, maar haar pa het onlangs weer in hul lewens betrokke geraak. Die twee meisies gaan nou vir die skoolvakansie saam met hom en sy nuwe meisie (‘n juweliersware-ontwerper) kuier. Zahn se pa kies die plaas juis sodat daar vir Brigadier stalle, ander perde en roetes vir uitritte in die bos is. Die vakansie begin egter op ‘n effens valse noot met haar rebelse en dramatiese suster se slim planne om haar boyfriend saam te neem.

Aangekom op die plaas in die hartjie van die woud, maak Zahn egter gou vriende met twee plaaslike seuns wat haar nooi vir ‘n uitrit. Die oggend van die rit is dit egter mistig en reënerig en Brigadier, wat die ooptes van Melkbosstrand gewoond is, is onrustig. Die spookagtige atmosfeer herinner Zahn ook weer aan opmerkings van Sibella, die boheemse eienaar van die plaas, oor naglopers.

Hierdie gaan beslis nie ‘n vervelige vakansie wees nie, met geheime wat uitkom, raaisels wat opgelos word en ‘n uitgebreide laslapgesin wat mekaar weer probeer vind.

 

‘n Leser kan ‘ n eksemplaar van hierdie oulike jeugverhaal wen deur die volgende vraag te antwoord:

Hoekom het Zahn se pa die spesifieke vakansieplaas in die Harkerville-woud gekies as bestemming?

Die sluitingsdatum is 26 Mei om 16:00.

Sien terme en voorwaardes hier: https://nelspruitpost.co.za/terms-and-conditions/.

Back to top button