Vind uit waar dit in Suid-Afrika spook

Al ooit gewonder of daardie hotel met die plankvloer dalk 'n spook ook huisves of het jy dalk een nag buite 'n vreemde gestalte bespied? Sian Hall skryf oor van die meer bekende spoke en geeste wat op Suid-Afrikaanse bodem gesien is.

As jy dit geniet om spookstories om die vuur te vertel of dalk nooit ‘n episode van Long Island Medium of Haunted Hotels gemis het nie, is Dit Spook Daar net die boek vir jou.

Sian Hall het in Dit Spook Daar verskeie bo-natuurlike ervarings van Suid-Afrikaners neergepen.

Die boek is in nege afdelings verdeel, wat elkeen oor ‘n ander soort gees of spook handel. Spoke wat op plase en in die veld opgemerk is word eerste bespreek, met spoke wat opgaar, spoke in openbare plekke en selfs die blywende gees van honde wat volg.

Daar word vertel van spookligte soos die Oë van die Karoo wat elke nag verskyn en al menige reiser die skrik op die lyf gejaag het. Daar is ses ligte in ‘n ry wat van links na regs beweeg en ewe helder met volmaan as met donkermaan is. Diere is ook glo doodbang daarvoor. Perde slaan op die vlug en honde grom of tjank wanneer hulle die ligte teëkom.

Die Geeste van Umfolozi is bekend onder die personeel van die reservaat en gereelde besoekers. In die nag kan die stemme van die inwoners van ‘n vergange Zoeloe-dorpie gehoor word waar hulle om die vuur sit en kuier. Hierdie staaltjie vorm deel van die afdeling oor spoke van ‘n vergange tyd en plek.

Van die spookhuise wat in die volgende afdeling bespreek word, sluit in Rhodes, die Goewerneurshuis en Caversham Hall.

Nottingham Road Hotel, De Hoop en verskeie bonatuurlike verskynsels in kombuise val onder Hotelle en hul spoke.

Hall skryf in die laaste afdeling van die boek oor vaslegging-spoke, verskynsels wat hul gang gaan sonder om oënskynlik bewus te wees van verandering aan geboue of die mense wat nou daarin woon.

Die boek fasineer jou by tye en gee jou deurlopend hoendervleis. As jy die laaste bladsy omgeblaai sal jy moontlik of die genoemde plekke heeltemal vermy of besluit om jou volgende vakansie ‘n spooktoer te maak en ‘n paar gaan besoek.

Of jy wel gaan ervaar wat in die boek beskryf is, is ‘n ope vraag. Die groter vraag is egter – wat sal jy doen as jy wel iets van die bonatuurlike beleef?

Exit mobile version