Talle redes vir jou om te stem

Laeveld Media groepsredakteur, Irma Green, deel haar opinie oor hoekom dit goed sal wees om jou kruisie te trek in die opkomende algemene verkiesing op 7 Mei.

Ek was nog maar ‘n tjokkertjie toe ek van politiek bewus geword het. My pa het baie sterk opinies gehad en ek is dus aan die proses van regering van jongs af blootgestel. Ek sal nooit vergeet toe ek as dogtertjie saam met hom na ‘n vergadering in die skoolsaal van Laerskool Malelane was, waar die ooms vurig geraak het oor die spreker se uitlatings.

Voor die vergadering was almal nog goeie pêlle, maar die prentjie het gou verander en daarna het almal net onderlangs met groettyd gebrom. In die proses het ek ook geleer dat politiek ‘n teer puntjie is en dat mense nie sommer wou sê vir watter party hulle stem nie.

In die ou dae was stemdag ‘n feeste-likheid met heerlike gebak, en die tannies van die verskillende partye het hul kiesers gul met eet- en drinkgoedjies onthaal.

Dié prentjie het nou heeltemal verander, maar die rede hoekom jy moet stem het nie. Daarom moet jy, indien jy nie geregistreer is om later vanjaar te stem nie, van die laaste geleentheid hierdie naweek gebruik maak om dit te doen.

As jy nog nooit gaan stem het nie, kan ek vir jou sê dat dit eintlik ‘n lekker ervaring is. Mense staan gemoedelik in die toue en maak geselsies oor en weer.

Die personeel by die stemstasies is gewoonlik baie vriendelik en behulpsaam om jou deur die proses te neem. Die lekker ding is jy trek jou kruisie agter ‘n toe deur, dus is dit anoniem.

Daar is baie redes hoekom jy dit moet doen! Jou kinders se opvoeding is ‘n belangrike een.

Dis jou belastinggeld wat reg aangewend word en moet sorg dat jou kinders die beste onderrig kry. Jou werk wat pensioen- en ongeskiktheidsvoordele aan jou bied, is nog ‘n rede. Stem reg sodat daardie geld goed bestuur kan word. Gesondheidsorg moet jou ook aanspoor. Moes jy onlangs van staatshospitale en -klinieke gebruik maak?

Dan sal jy weet daar is baie uitdagings, en deur te stem kan jy aanspraak maak daarop dat dit reg bestuur word. Gatvol vir slaggate? Wel, stem sodat jy die regering kan help dwing om dit reg te maak.

Wie van ons is nie tot die dood toe moeg vir misdaad nie? Dis waarskynlik een van die belangrikste redes hoekom jy jou kruisie moet trek. Ons moet aandring op blitsige verandering.

Verkiesingsdag is werklik die enigste dag in ons land wanneer almal “gelyk” is – en dus moet jy die dag met ‘n kruisie vier.

As jy stem gee dit jou die reg om vir ewig te kla! As jy dit nie gedoen het nie, vreet die korrupsie en ongelykheid in ons samelewing op – en in stilte.

Dit gebeur min genoeg, so dit is nie soveel moeite as wat jy dink nie. Die heel domste verskoning wat jy kan aanbied, is om te sê: “My stem gaan nie ‘n verskil maak nie”. Regtig?! Onthou meer mense het in die laaste verkiesing nie gestem as wat daar gestem het, om die regerende party aan bewind te kry.

So, dit maak nie saak vir wie jy stem nie, dis jou grondwetlike reg om deel te neem aan ons demokrasie.

Jy gaan dalk nie meer ‘n stukkie melktert of ‘n koeksister kry nie, maar die swart kolletjie op jou nael vir ‘n paar dae, is ‘n soet herinnering dat jy ‘n verskil maak.

Exit mobile version