Redakteur betreur motorongelukke

Laevelder se nuusredakteur, Nicolene Smalman lewer kommentaar na aanleiding van verlede naweek se ongeluk in Ferreirastraat, Nelspruit.

Ek weet nie meer hoeveel lyke ek al in my loopbaan gesien het nie, maar dis baie. Ek weet nie by hoeveel ongelukstonele ek al was nie, maar dis baie. Jy leer om na die lewelose liggame as blote stukke vleis te kyk waarvoor jy niks kan doen nie. Baie van hierdie ongelukslagoffers is Mosambiekers wat geen vorm van identifikasie aan hulle het nie en jy hoor dus nie die storie agter die mens wat daar lê nie. Dis beter so. Besonderhede van die ongelukstoneel vervaag dan vinniger in jou geheue.

Hierdie week, was ek nie so gelukkig nie. Twee geliefde lede van die Nelspruitse gemeenskap is in ‘n ongeluk in Ferreirastraat dood, een van hulle boonop ‘n kind van 15 jaar. Die omstandighede agter die ongeluk, is tragies, bisar amper. Bouwer Badenhorst en Laurie Nel is oomblikke nadat hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet het, dood. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat Bouwer te vinnig met sy sportsmotor gery het en Stevie Pieterse wat alles op video vasgelê het, was gelukkig om te oorleef.

Laevelder het ongekende verkeer op sy Facebook-blad en webtuiste gehad soos inwoners die storie gelees het. Die kommentaar wat mense daar gelos het, is uiteenlopend. “Wat soek sulke jong kinders daardie tyd van die nag nog op die straat? Daar het jy dit nou van te vinnig ry. Drank en dwelms is ‘n lelike ding.” Heelwat mense het ook hul meegevoel met die Badenhorst- en Nel-families betuig.

Op 15 Desember verlede jaar is my oom na ‘n kort siekbed in ‘n hospitaal in Klerksdorp oorlede. Ons was in Potchefstroom toe ons hoor hy beleef sy laaste oomblikke. Ons het met my pa se C270 diesel Mercedes Benz – ‘n vulletjie teen Bouwer se AMG – teen 200 kilometer per uur soontoe gejaag. My pa het bestuur en was op daardie oomblik deur desperaatheid, skok, hartseer en blote broederlike liefde gedryf. Tog het hy na die tyd opgemerk dat dit uiters onverantwoordelik en onnodig was.

Ons almal het al te vinnig gery en selfs dronk bestuur. Hoe vinnig Bouwer gery het, weet ek nie. Hy het dit heel waarskynlik gedoen om Laurie en Stevie te beïndruk. Dit was ‘n dom ding om te doen en Bouwer (en ongelukkig Laurie ook) het die hoogste prys daarvoor betaal.

Ons as Nelspruiters moet ag hierop slaan en opnuut besef dat spoedbeperkings daar is vir ‘n rede. ‘n Voertuig – van ‘n 1 300 Toyota Yaris tot ‘n kragtige Mercedes of BMW, is ‘n toestel wat met uiterse versigtigheid en verantwoordelikheid hanteer moet word.

Intussen is twee families uitmekaar geruk en ervaar geweldige seer. Ons almal maak foute, party net meer dodelik as ander. Hou vir ‘n oomblik op oordeel, reik uit na hulle en staan saam as gemeenskap in ‘n tyd van rou.

Exit mobile version