Editor's note

Wildtuin- olifante sorg vir talle konsternasies

Die stof oor die olifant wat 'n motor in die wildtuin gerol het, wil nie gaan lê nie en die video wat die week vrygestel is, het hernude belangstelling geprikkel.

Die stof oor die olifant wat ‘n motor in die wildtuin gerol het, wil nie gaan lê nie en die video wat die week vrygestel is, het hernude belangstelling geprikkel. As jy ‘n gereelde besoeker aan die wildtuin is, sal jy waarskynlik ‘n olifant-storie hê om te deel. Myne is nog vars in die geheue en het einde laas jaar gebeur toe ek en drie vriendinne vir die naweek Krugerwildtuin toe is.

Ons het die Saterdagoggend vir ‘n wildrit gegaan en was nie eers 15km van Skukuza af nie, toe ons ‘n paar motors op ‘n draai sien wat stadig agteruit ry. Ek het gou gesê dat daar seker ‘n klomp olifante in die pad was. Ons het stilgehou en kon sien hoe die teeltrop stadig padlangs om die draai aangeloop kom.

Daar was onmiddellik ‘n opgewondenheid in die motor en ons het foto’s van alle kante geneem. Ek kon my motor eers links oor die pad trek en later regs, en ons het self stadig agteruit gery. Intussen het ‘n groot klomp voertuie ook agter ons begin versamel, maar ons het besluit om redelik ver van dié bosreuse te bly. Of dit was in elke geval die plan. My motor het ‘n outomatiese stop/start-funksie en in retrospek, moes ek eerder dié funksie vir ‘n tydperk gekanselleer het. Want toe ek weer die enjin wou aansit, was dit dood. Met ‘n benoude stemmetjie het ek die ander drie laat weet dat my kar nie wou aansit nie, maar gevra dat hulle kalm moet bly.

Ek het weer probeer en intussen het die voorste motors almal in trurat by ons begin verby ry. Toe die laaste twee kom, het ‘n vriendelike man ons gemaan om te begin ry en dis toe ek besef ons is in ‘n hoek vasgekeer was.

Benoud het ek verduidelik my kar wou nie aan nie en nog voordat ek ‘n woord verder kon sê, het twee van my vriendinne by hulle in die kar gespring. Die meer brawe een onder hulle, Annie, het bly sit.
Die man het voorgestel ons “gee ook oor” en toe sny ek ‘n lyn in die Hilux in. Halfpad in, sien ek daar is nie plek vir Annie nie en stuur haar na die enigste ander motor wat oor was. Dié was twee Duitse toeriste wat glad nie lus was vir ‘n passasier nie, maar wat toe helaas vir haar ‘n plekkie gegee het.

My lyf het halfpad uitgehang en ek kon nie verstaan dat ons nie kon in nie, totdat ‘n piepstemmetjie agter ‘n groot piekniekmandjie agter een van my twee ander vriendinne se lywe sê: “Meisie, dink jy nie die deur moet toe nie?”

Dit was ‘n arme oumatjie wat ons totaal in die hoek ingedruk het.

Dit het alles in sekondes gebeur en die olifante het al hoe nader begin beweeg. En daar los ons toe my motor met al ons aardse besittings in die middel van die pad. Al wat die ander joernalis in die geselskap kon uitkry is: “Ek het my flippen kontakboekie in die kar vergeet,” en ek wat haar aankyk of sy mal is en sê: “Daar is my hele kar, kamera, handsak en alles wat ek het,” en binne oomblikke kan ek dalk kyk hoe die olifante dit plat trap.

Wel, ons het gelukkig nie groen appels in die motor gehad nie en hulle het net stadig om my motor verbybeweeg. Met tyd het hulle in die bosse begin inbeweeg totdat daar net twee in die pad oor was.
Intussen het die voertuie wat agter die trop vasgekeer was, nou begin verby ons ry en verbaas gevra: “Wat het die van die mense geword wat in die motor was?” Ons motorbestuurder het droogweg geantwoord dat ons die bosse ingevlug het, min wetend dat dit paniek sou veroorsaak.

Met ons aankoms by die motor, het ‘n verstomde man met hande in die hare langs my motor gestaan en tekens wys. ‘n Veldwagterpatrollie het ook intussen gestop en toe ons stop, het ek nader gestaan en verklaar dat dit my voertuig was. Die manne in uniform was vreeslik geamuseerd met die situasie en twee probeerslae later het my motor gevat!
wILD
Ons het geduldig vir Annie gewag tot sy ook terug was by ons. Die lywe was lam van skrik en ons het dadelik teruggery kamp toe. Later die middag by die winkel groet ‘n veldgids my en sê: “Mense wat ‘n motor soos jy ry was vandag in groot drama met olifante. Dit was oral op die radio’s en die helikopter was gereed om hulle te gaan soek. Hulle het glo die bosse ingevlug.”

Back to top button