Heerlike leesstof vir die vakansie

Wanneer die vakansietasse gepak word, maak seker dat jy genoeg leesstof byderhand het om behoorlik te ontspan.

Wanneer die vakansietasse gepak word, maak seker dat jy genoeg leesstof byderhand het om behoorlik te ontspan. NB Uitgewers bied vier nuwe liefdesverhale uit die pen van gekende skrywers, net betyds vir die vakansieseisoen.

In ‘Eiland van Drome’ deur Malene Breytenbach aanvaar Irene Basson, ‘n jong psigiater van Kaapstad, na deeglike oorweging haar baas se aanbod om by sy nuwe luuksekliniek op ‘n Griekse eiland te werk. Nicholas Barton is die kleinseun van die skatryk Georgios Nikos en hy en Irene verkeer eers op ‘n formele voet. Hulle verhouding verdiep wanneer hy haar vra om sy broer Gary te behandel en sy die gekompliseerde Nikos-familie beter leer ken.

Nicholas is egter altyd deur vroue omring en wanneer Irene hom van ‘n affair verdink, loop die nuwe verhouding byna skeef.
Irene begin wonder of hierdie haakplek, Oupa Georgios se deurmekaar familiedinge en ‘n opdringerige pasiënte nie dalk hulle verhouding gaan kelder nie.

Dirna Ackermann se ‘Haar beste bruidegom’ vertel die verhaal van Annemé, wat haar amper-ouboet, De Wet, se hulp inroep om ‘n gawe bruidegom te vind. De Wet, wat Annemé van skattige buurdogtertjie na volwasse vrou sien verander het, het egter diep gevoelens vir haar.

Annemé, onbewus hiervan, is vasberade om onder De Wet se vriende ‘n goeie kandidaat te kry en weet wie eerste op haar lysie is. De Wet moet dan alles uithaal om te keer dat Annemé met die verkeerde man deurmekaar raak. Hy kan aan ‘n baie beter bruidegom vir Annemé dink…

Om te herstel van ‘n liefdesteleurstelling beland Lana op Langebaan in ‘Liefde op Langebaan’ van Trish Goosen. Sy het juis hier kom herstel waar niemand haar verlede ken nie.

Dinge tussen haar en sjef, Ben Kok, loop van die begin af skeef, wanneer sy in ‘n restaurant struikel en ‘n aarbeimelkskommel op haar omkeer. Lana besef hy is duidelik ‘n player van formaat, wanneer hy vatterig raak op hul eerste afspraak.
Hy is boonop veels te sexy en daar wink beter dinge op die horizon – die nuwe dokter op die dorp.

Om op te maak vir sy flater op hul afspraak bied Ben aan om Lana te leer kosmaak – om die vegetariese dokter te beïndruk. Lara sal moet begin keer vir die kookwater, en nie net in die kombuis nie…

Die laaste boek op die lys is ‘n goeie opsie om ouer tieners en jongmense aan die lees te kry. Kristel Loots se ‘Sushi en sjampanje’ is die dagboek wat menige jongmense wens hulle kan skryf.

Jaci verloor haar cozy werk, wanneer sy en Pulani Facebook gebruik om haar verloofde (en baas) as ‘n fake te ontbloot.

Haar ma het way te veel kinders en is boonop baie weird en haar broer wil Gary net gaan aanval, wat Jacki nie juis gaan help nie. Daarby is die poste wat in die koerant adverteer word, nie iets wat ‘n meisie wat half en half ordentlik is, sal oorweeg nie.
Toe ‘n verruklike man met Einstein-hare haar werk aanbied, vermoed sy daar is ‘n ding in die drinkwater. Giovanni toor hemelse musiek uit sy viool en lyk alte pragtig in sy tux, terwyl Jacki vreeslik vals sing.

Sy wil ‘n sushi-en-sjampanje lewe hê, maar Giovanni maak musiek wat ‘n standbeeld sal meevoer en hy kan ook ‘n vrou behoorlik vasvat en van haar voete af soen.

Exit mobile version