Editor's note

Oor sosiale media…

Lastersake wat voortspruit uit hierdie forums is nou 'n groot werklikheid en daar het al 'n klomp wenners uit die stryd getree. Die goue reël is, as jy nie daardie inskrywing met jou gesig daarby op 'n reuse-advertensiebord sal sit nie, moet dit nie op FB publiseer nie.

Hulle stap verby jou in die winkelgange, glimlag mooi en knik soet. Hulle sit elke Sondag vroom voor jou in die kerk en skink na die tyd liefies tee vir die gemeente. By die skool neem hulle saam aan die entrepreneursdag deel met tafels wat kreun onder lekkernye.

Hulle is moontlik jou vriende se kinders wat hard op universiteit studeer om graad te vang. Maar sit hulle agter die rekenaar op Facebook en ewe skielik verander hulle in ongenaakbare mense wat nie sal skroom om met hul snedige aanmerkings ander af te breek en heeldag ongevraagde kommentaar lewer nie. Dís die nuwe-generasie sosiale mediaverbruiker wat duidelik nog nie die fynere etiek van hierdie medium ken nie en hul nuutgevonde vryheid misbruik onder die vaandel van “vryheid van spraak”. Meneer, mevrou en jongeling, ek het nuus vir julle!

Jy gaan nog liederlik les opsê as die eerste lastereis op jou beteken word. Maar afgesien van die vrees vir litigasie, wat het met ons samelewing gebeur dat elkeen homself die reg toe-eien om soos mal goed lukrake stellings op sosiale webwerwe te maak? Het hierdie mense nie werk nie en is hul eie lewens so vervelig dat hulle op ander se lewens moet teer vir bietjie opwinding? Op ons FB-bladsye het ons daagliks daarmee te doen. Selfs in die mees onskuldige mediaboodskappe, sal een of ander gebruiker rede vind om te kerm. Die week het ons byvoorbeeld ‘n hengse debat daarop gehad oor die feit dat Laevelder Mandela die pa van ons reënboognasie genoem het. ‘n Rassistiese storm het losgebars en toe Laevelder hul reg uitoefen om van hierdie inskrywings te verwyder, was ons die grootste skurke op dese aarde.

Wanneer hierdie fanatiese klomp eers lostrek, is daar geen keer en dan word vriende van vriende en hulle almal se vriende opgestook om in te klim. Twee weke gelede is ek deur ‘n joernalis in my kantoor aangesê om die FB-blad “Potch Confessions” te besoek. Met ‘n dogter wat by die Puk studeer, het ek gaan loer wat aangaan. Dit was skokkend. Sowat 90 persent van die inskrywings op die blad is só eksplisiet, dat ek nie sal waag om dit in die kolom aan te haal nie. Meeste van dit kom van studente af en baie het te doen met hul seksuele ervarings, waar dit gebeur het en in die fynste detail hoe dit plaasgevind het.

Ek was naar. Hierdie is kinders wat intelligent genoeg was om universiteitstoelating te verkry en wat die toekoms van ons land verteenwoordig. En hul skuil agter ‘n naamlose profiel wat hulle nie identifiseer nie en daarom is daar geen keer aan wat hulle skryf nie. Het die morele verval van ons jongmense al ook so gevorder dat enigiets aanvaar word?

Hierdie confessions-bladsye het egter nou al wyd versprei en ‘n paar weke gelede het Nelspruit ook een gekry. Ek wil nie eens gaan kyk nie. Wat het egter geword van die mensdom se sin vir selfrespek en ordentlikheid as dit maar “reg” is om so voort te gaan. Forums soos Facebook, Twitter en Whatsapp is egter ook besig om vele lewens te verwoes. ‘n Plaaslike sielkundige het onlangs vir my gesê dat sy praktyk oorval word met tieners wat op hierdie forums geboelie word. Terwyl FB vir baie ‘n wonderlik manier geword het om met jou vriende en familie kontak te hou, is daar ‘n nadeel wat baie negatiewe gevolge het. Maar vir dié wat so heerlik laster, maak seker jou feite is korrek en dat dit in publieke belang is.

Lastersake wat voortspruit uit hierdie forums is nou ‘n groot werklikheid en daar het al ‘n klomp wenners uit die stryd getree. Die goue reël is, as jy nie daardie inskrywing met jou gesig daarby op ‘n reuse-advertensiebord sal sit nie, moet dit nie op FB publiseer nie. Die skade is presies dieselfde en daarvoor gaan jy lekker opdok!

Back to top button