Editor's note

Innibos-jolyt!

Dit is die hoogtepunt op die Laeveld-kalender en elke jaar word daar uitgesien na vyf dae waarin besoekers aan 'n verskeidenheid op die feesprogram kan smul.

Innibos beteken jolyt, pret en hope Afrikaanse kultuur. Dit is die hoogtepunt op die Laeveld-kalender en elke jaar word daar uitgesien na vyf dae waarin besoekers aan ‘n verskeidenheid op die feesprogram kan smul.

Woensdag reeds het die eerste terugvoer gekom dat kaartjieverkope alle verwagtinge oortref en dat menige vertoning reeds uitverkoop is. Die weer het tot dusver goed saamgespeel, alhoewel daar voorspel word dat daar ‘n koue front op pad is.

Ek glo dat nie eens dié koue die warmte van ‘n Innibos-kuier gaan verdryf nie. Stalletjiehouers was teen gistermiddag ook verras deur die kooplus van besoekers en het alles daarop gedui dat Innibos 2013 vir almal rede gaan gee om fees te vier. Die motors se nommerplate vertel ‘n verhaal van besoekers wat van regoor die land op die Laeveld toegesak het, almal opgewonde om die streek te kom besoek. Vir ons is dit ‘n groot voorreg om elkeen te verwelkom en tuis te laat voel. Die stadsraad het hierdie week hard gewerk om seker te maak ons stad is pragtig skoon.

Elke besoeker moet die gasvryheid van hierdie besonderse gemeenskap geniet en weet dat ons almal opgewonde is om julle hier te hê. Die poeding van die ervaring bly die geleentheid om die room van ons land se akteurs in aksie te sien, en hulle is almal hier – Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Cobus Rossouw, Tobie Cronjé, Lizz Meiring en natuurlik ons plaaslike ster, Wessel Pretorius.

Wat ‘n belewenis was dit nie om Sandra weer in aksie te sien en dié keer in Oscar en die Pienk Tannie. Vir byna 90 minute is dit net Sandra op die verhoog, maar voor jou oë verander sy in elke liewe karakter wat sy vertolk. Dié emosiebelaaide stuk laat jou lag, hartseer voel en die sneesdoekie moet nie te ver weggebêre word nie. Ek is seker daar gaan nog ‘n paar sulke ervarings wees, want maak nie saak waar jy gaan nie, maak mense voorstelle aangaande vertonings wat hulle gaan sien het. Dis tien jaar later, die Laeveld se koffers word gevul en die ekonomie word gestimuleer. Die Innibos-span bly uitstekend in hul organisatoriese vermoëns en die Laeveld salueer feesbestuurder Andy Lubbe en bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, vir die ongelooflike goeie werk wat hulle doen. Geniet Innibos!

Back to top button