Editor's note

Nelspruit weer in die spervuur

Pogings om die hoofstad van Mpumalanga se naam finaal nou die nekslag toe te dien, skop eersdaags af in 'n geveg wat in die howe baklei gaan word.

Nelspruit is weer in die spervuur. Pogings om die hoofstad van Mpumalanga se naam finaal nou die nekslag toe te dien, skop eersdaags af in ‘n geveg wat in die howe baklei gaan word. Die feit dat dit besighede miljoene rande gaan kos om deur die proses te gaan, is ongeldige redes vir die regering om van hul planne af te sien. Die Laeveld Kamer vir Besigheid en Toerisme (LCBT) gaan namens die sakesektor en gemeenskap die saak vanaf Augustus begin beveg. Dit kos egter geld en weer eens word daar ‘n beroep op elke inwoner en besigheid gedoen om die aksie finansieel te ondersteun.
Die proses duur al jare voort en kostes tot dusver beloop reeds miljoene. Dit is hartseer dat daar soveel druk is om Nelspruit se naam te verander, nieteenstaande die feit dat daar geen politieke verbinding met die naam is nie.
In die laat 1800’s was die Laeveld ‘n gewilde gebied vir veral veeboere wat in die wintermaande hierheen gekom het om om hul diere te laat wei. In die boek, Nelspruit 75 in ’80 deur Hans Bornman, vertel hy dat dit die gebruik was vir boere om ‘n groep werkers voor die wintermaande vooruit te stuur om gras te kom brand sodat daar vars, kort gras beskikbaar sou wees as hulle hier aankom. Mettertyd het die boere vaste staanplekke gehad en sedert ongeveer 1870 het die drie broers, Gert, Louis en Andries Nel, gereeld digby die Krokodilrivier gestaan, waar Nelspruit vandag geleë is.
Louis Nel se veekrale was min of meer geleë waar Ehlanzeni se munisipale kantore vandag is. Die ontdekking van goud by Mac Mac en Pilgrim’s Rest in 1873 het die rus en vrede begin versteur en delwers het van oraloor na die goudvelde begin stroom. Dié van oorsee het deur Delagoabaai gekom, want dit was vinniger om dan vanaf Lourenço Marques (vandag Maputo) te voet, te perd of met ‘n wa deur die Laeveld te reis. Die roete het deur die Lebomboberge tot ongeveer by Komatipoort gestrek, waarna die trekkers al langs die Komati- en Krokodilrivier gereis het.
In 1888 is die gronde rondom Nelspruit opgemeet en die eerste lotte het as gedeelte D van die Kaapblok, myndistrik Barberton, bekendgestaan.
Die regering het die grond vir 21 jaar verhuur en die eerste veiling van plase het in 1890 plaasgevind waar HL Hall die huidige Mataffin vir R108 per jaar begin huur het. Gert Nel het ook ‘n plaas teen R140 per jaar gehuur tot kort voor die Anglo-Boereoorlog toe hul jaarlikse trek geëindig het.
In 1900 het Paul Kruger self in Nelspruit oorgebly voor hy Europa toe is om die Boere se saak te gaan bevorder. Die oorlog het die oordrag van erwe in Nelspruit vertraag en na ‘n proses van opmeting en registrasie, is die dorp op 27 Januarie 1905 geproklameer. Die bou van die Oosterspoor het ‘n groot rol in die ontstaan van die dorp gespeel. Die publikasie van die finale verslag oor die bou van die Oosterspoor waarin die naam Nelspruit as ‘n stasie verskyn, is waarskynlik as die amptelike stigtingsdag van die plek Nelspruit gereken. Nadat die gedeelte tussen Nelspruit en Graskop in 1911 voltooi is, is nuwe lewe in die dorp se ekonomie geblaas. In 1923 is die eerste dorpsraad verkies en dit word histories aangedui dat die bevolking nog baie klein was, veral ten opsigte van die skoner geslag. Eers in 1930 is Nelspruit as magistraatsdistrik geproklameer.

Die naam Mbombela spruit voort uit die gedeelte waar MMC vandag staan. Inwoners van dié gebied is verskuif om plek te maak vir die stigting van die industriële gebiede. Mbombela beteken “baie mense in ‘n klein gebied”. Hoe dit ookal sy vir verskillende etniese en kultuurgroepe, sal die sentiment rondom ‘n naam ook verskil. Die vraag is egter of die naam Nelspruit aanstoot gee en of dit enigsins verdeeldheid in die gemeenskap veroorsaak. Miskien vereenvoudig ons die kwessie, maar kan ons stad ‘n naamsverandering bekostig?

Back to top button