Editor's note

Klein monstertjies en selfoonetiket

In my opinie is daardie eerste selfoon-lui die perfekte tyd om seker te maak joune gaan nie ook steur nie.

Selfone is nie meer ‘n nuutjie nie, inteendeel dis ou nuus. Tog lyk dit my asof mense steeds nie selfoonetiket verstaan nie. Hoe is dit moontlik dat julle steeds by ‘n funksie vergeet om selfone op “stil” te sit of sommer bloot af te sit?

‘n Mens sal sweer ons landjie is besaai met mense wat noodsaaklike dienste moet verskaf, want meeste is baie skrikkerig om die klein monstertjies vir ‘n rukkie eenkant toe te gooi. By meer as een geleentheid die afgelope paar weke, is verrigtinge op dié manier onderbreek. So het ek eers na ‘n pragtige vertelling van ‘n bekende aktrise geluister, toe die selfone kort-kort gelui het.

In my opinie is daardie eerste selfoon-lui die perfekte tyd om seker te maak joune gaan nie ook steur nie. Maar nee, groot handsakke met honderde kleiner sakkies word naarstigtelik deurgesoek, terwyl die sweetdruppels op die voorkop begin pêrel, net om die verdomde geraas stil te kry. By die volgende geleentheid, nogal dieselfde organisasie, kon nie eers Steve Hofmeyr die vroue sover kry om van dié lastigheid ontslae te wees nie. Daar was selfs sommige vroue wat selfoon in die hand opgespring het om hul dringende sakies buite te gaan bespreek.

Ag nee mense, dis nie aanvaarbaar nie. Maar dit het nie daar gestop nie. By Steve se vertoning het die vroue se swak maniere meer as een mens in die gehoor amper tot raserny gedryf. Die alewige geklets, klipharde gelag en aanhoudende gesels met mekaar, was só steurend dat daar mense was wat vir hulself sitplek op ‘n ander plek gaan soek het. Van ons voorste tannies met hooggeklitse kapsels en rooie lippe, was die grootste sondebokke. Van hulle het al self geleenthede georganiseer en ek wonder maar net of hulle sulke ongepoetsheid teenoor húlle sou waardeer het.

Kyk, ek kan nie buite rekening laat dat die drankies dalk ‘n rol gespeel het nie. Jong manne sonder hemde het flink bontgestaan om almal te bedien en drie ure later, kon die hoë frekwensie-laggies nie eers meer deur Steve se Bloubul-song gedemp word nie. As jong meisie kan ek onthou hoe tannie Poppie, ‘n bekende oud-onderwyseres, ons jong meisies oor etiket geleer het. Sy het vele keer vir ons gesê: “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel, daar is iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur.” Ek weet nie of ek van die “geurtjies” gehou het wat kop uitgesteek het by Steve nie. Ons maak almal bollas los op ons tyd, maar onthou tog altyd dat goeie maniere nie dan by die venster moet uitwaai nie.

Back to top button