Atlete van die Laeveld het verlede Vrydag, 7 Februarie, puik by die 17de aanbieding van die LJ Prokureurs Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Rob Ferreira presteer.
Rob Ferreira se LJ-byeenkoms is ‘n ou gunsteling op die jaarlikse atletiekkalender. Skole van wyd en syd reis na Witrivier om deel te neem, en vanjaar se geleentheid was geensins anders nie.
Curro Nelspruit, Hoërskool Bergvlam, Hoërskool Barberton en Penryn is al die Laeveld-skole wat deelgeneem het. Hoërskool Middelburg en Hoërskool Uitsig van Pretoria het ver gereis om ook deel daarvan te wees.
Die LJ-byeenkoms is bekend as ‘n puik middagaand-geleentheid wat vir ‘n paar van die skole die laaste byeenkoms is voor hulle aan verskeie interhoërs deelneem.
Terwyl van die skole dié geleentheid gebruik as finale voorbereiding vir hul topatlete, gee die ander hulle beste atlete ‘n ruskans sodat hulle die diepte van die res van hul atletiekspan kan verbeter.
Daar is ook ‘n gevoel van sterk vriendskaplike kompetisie onder die atlete en skole, wat sorg dat hulle mekaar tot op die uiterste druk. Owethu Ndashe van Rob Ferreira was die junior victrix ludorum en Lesego Mashego, ook van Rob, die junior victor ludorum.
Curro Nelspruit se Jehané Erasmus was die senior victrix ludorum, terwyl Wezile Madonsela van Rob Ferreira die senior victor ludorum was.
’n Aantal rekords is ook op dié dag verbeter:
• Seuns o. 15, 100 m-hekkies: 13,82 sek. – Radley Johnson (Rob Ferreira)
• Seuns o. 19, 110 m-hekkies: 14,49 sek. – Tumiso Letsoalo (Rob Ferreira)
• Dogters o. 15-hamergooi: 18,25 m – Londi Lekhuleni (Rob Ferreira)
• Seuns o. 15-hamergooi: 17,95 m – Maqhenane Simanye (Hoërskool Uitsig)
• Dogters o. 17-hamergooi: 31,20 m – Ilané Mostert (Rob Ferreira)
• Dogters o. 19-hamergooi: 27,79 m – Elizma van Rooyen (Rob Ferreira)
• Seuns o. 15, 4×100 m-aflos: 46,58 s – Hoërskool Rob Ferreira.
> Foto’s: Blake Linder