School sportSport

Nellies-rugby sluit seisoen op hoogtepunt af

Drie van Laerskool Nelspruit se rugbyspanne het onlangs uitstekend by die Mpumalanga Grootskole se uitspele gevaar, waar drie van die vier deelnemende spanne met goue medaljes weggeloop het.

Hoërskool Ligbron het op 1 en 2 Junie gasheer gespeel vir die finale uitspeelronde van die Mpumalanga Grootskoleliga om te bepaal wie die beste laerskoolrugbyspanne in Mpumalanga vir hul onderskeie ouderdomsgroepe is.

Dié was in die o. 9-, 10-, 11 en 13-ouderdomme in die kleinskole-, mediumskole- en grootskolekategorieë. Laerskool Nelspruit kon ongelukkig nie soos verlede jaar skoonskip in al vier grootskoleouderdomsgroepe maak nie, maar het steeds met ’n ongelooflike goeie seisoen afgesluit. Die Nellies het wel in drie van die vier ouderdomsgroepe as Mpumalanga Grootskolerugbykampioene vir 2024 koning gekraai.

In die o. 9-halfeindronde wen die o. 9A- Nellie Welpiesrugbyspan 14-0 teen Laerskool JJ van der Merwe van Ermelo. In die o. 10-halfeindronde wen die o. 10A- Nellie Leeutjiesrugbyspan 10-5, ook teen JJ van der Merwe. Die o. 11A- Jong Leeus wen ook hulle halfeindronde teen JJ, 19-3. Die Volvo Nellie Leeus se eerste rugbyspan verloor met 17-20 teen Laerskool Goedehoop.

Die o. 10A-span. Agter: Liam van Rensburg, JG van Niekerk, Josua Hofmeyr, LJ Hauptfleisch, Simon Reynders, Ruben Reynders, Wihan du Plooy, Christo Jurgens, Francois Kok, Stefan Augustyn en Daniël Cronje. Middel: Rossouw du Toit, Alex de Kock, Janco Cronje, Roux van der Walt, Malan Venter, Gustav van Huyssteen, Johwan Viljoen, Matthew Renaud en Regardt Roos. Voor: Keagan du Preez (kaptein), Janco le Roux (onderkaptein) > Foto’s: Verskaf/Laerskool Nelspruit

In die Puma Grootskolefinale wen die Nellie Welpies hul wedstryd teen Laerskool Middelburg in die laaste sekondes met 12 -10, en word as die Pumas o. 9A-grootskolekampioene vir dié jaar gekroon. Die Leeutjies wen teen Laerskool Goedehoop, 15-0, en word as die o. 10-kampioene aangewys. Die Nellie Jong Leeus speel uitstekende rugby in hulle finaal en wen 28-0 teen Laerskool Goedehoop.

Die Nellie Volvo Leeus se eerste rugbyspan speel uit vir derde plek en wen 31-19 teen Laerskool Kruinpark, en is wenners van die brons medalje vir 2024. Die Nellie Leeus het agt wedstryde tydens die Puma-uitspele gespeel en sewe daarvan gewen, ’n pragtige prestasie. Die seuns het hul harte uitgespeel en uitstekend gedoen.

Die o. 11A-span. Agter: Jeandré Smith, Christiaan de Kock, André Drummond (afrigter), George Neuhoff (onderkaptein), Richter Meyer (kaptein), Fourie du Plessis (afrigter), Du Toit Kotze en Burger Boshoff. Middel:
Renier Olivier, Andeon Visagie, Daniel dos Santos, Reuben Alexander, Wiam du Plessis, Ben Steyn, Riwan van der Merwe en Jurgen Faber. Voor: Ruben Luus, Luandré Liebenberg, Wian du Toit, Luan Badenhorst, Noah dos Santos, Connor Harrison, Daine Viljoen en Durandt de Wet. > Foto’s: Verskaf/Laerskool Nelspruit

“’n Besondere woord van dank aan ons Nellie-ouers, -ondersteuners en aan al ons borge wat bankvas agter elke Nellie Leeu-rugbyspeler en ons Nellie-spanne gestaan het. Die ondersteuning by elke wedstryd het baie vir ons Nellie Leeus-seuns beteken en het vir ons rugby die ekstra brul tydens die wedstryde gegee,” sê Laerskool Nelspruit se afrigter, Adé Adendorff.

Altesaam het die Nellie Leeus A-spanne 76 wedstryde gespeel, 68 gewen en vyf gelykop gespeel, om ’n wenpersentasie van 89% vir die 2024-rugbyseisoen te behaal. Saam met die Nellie Leeus B-spanne se wenpersentasie van 86% het die Nellie Leeus-spanne ’n algehele wenpersentasie van 88% vir dié seisoen behaal.

Die o. 13A-span. Agter: Alex Jonker (afrigter), James Freeman, Malan de Klerk, Milan Bekker, Nicholas Houy, Bernard Calitz, Janco Wendelstadt, Liam Classen, oom Alwyn Viljoen (afrigter), Alrich Hyman, Ihvan Pretorius, Adé Adendorff (afrigter), Rigardt Barnard, Schalk Venter, Roelf Winterbach en Morne van Wyk. Voor: Kyle van Rooyen, Hylgard Lourens, Ruben du Toit, Charlie Kraftt, Kian van Rooyen, Tiano Laufs, Dandré Louw, Heinke Coleman, Caiden Heunis en Eric Vos. > Foto’s: Verskaf/Laerskool Nelspruit

 
Back to top button