Nolwazi, Ashaan is juniors se goues
Hoërskool Rob Ferreira se Ashaan Sebastian Greaver het die kollig by vanjaar se Mediclinic Nelspruit Interhoër vierkantig op hom gevestig toe die victor ludorum-trofee vir die derde agtereenvolgende jaar aan hom toegeken is.
Hy het in 2015 en 2016 by die interlaer-byeenkoms ook met dié spogtrofee weggestap.
Sien ook: Rob Ferreira in aksie – Interhoër 2017
Dit was egter sy afstand van 6,09m in die verspringput wat hom 1 131 ABSA-punte in die sak gebring het – die hoogste punte-telling deur ‘n atleet by dié geleentheid.
Lees ook: Jacques, Ashaan is nou die twee om dop te hou
Die huidige Suid-Afrikaanse Skole-driesprongkampioen van Lowveld High, Nolwazi Mashaba (o/15), het op haar afstand in dié item van 11,05m verbeter toe sy Saterdag op die gasheerskool, Hoërskool Barberton se sportvelde ‘n 11,53m agter haar naam geskryf het.
Wat die prestasie só besonder maak, is dat Nolwazi saam met die o/19-dogters deelgeneem en stof in hulle oë geskop het toe sy ‘n eerste plek behaal het.
Sy kon net-net nie die 1984-verspring-rekord verbeter nie, maar spog steeds met ‘n wensprong van 5,33m. Haar naam is op die junior victrix ludorum-trofee se plaatjie gegraveer.
Sien ook: Lowveld High in aksie – Interhoër 2017
Die senior victor en victrix ludorum-trofeë staan vanjaar in Hoërskool Nelspruit se spogkas.
Die o/19-spoedvraat, Nerina Visser het sedert die Randburg-byeenkoms op haar tyd van 13,07 in die 100m verbeter. Sy het Saterdag in ‘n blitsige tyd van 12,74 oor die wenstreep genael.
NHS het hulle 52ste agtereenvolgende oorwinning behaal. Die seuns se wentotaal van 586 punte is gevolg deur Rob Ferreira (475), Lydenburg (302), Lowveld High (253), Bergvlam (246), Penryn College (183) en Barberton, slegs een punt agter Penryn (182).
Onder die dogters was NHS (608) veels te sterk vir Rob (368), met Lydenburg (334) in die derde plek. Hulle is gevolg deur Bergvlam (213), Penryn College (211), Lowveld High (174) en Barberton (165).