FeaturesInterhigh 2016: NewsLifestyleSchool sportSport

Lenige atleet verbeter 36 jaar oue rekord

Hoërskool Lydenburg se goue seun, Diaan Lombard het groot opspraak tydens sy skool se interhuis-atletiekbyeenkoms gemaak toe hy 'n 36 jaar oue rekord in flarde gehardloop het.

Gerhard Fullard het in 1981 die 400m-hekkies in 58,59 voltooi en Diaan het daardie dag 57,39 gehardloop.

“Ek was in die wolke gewees, veral omdat dit vroeg in die seisoen was en ek het nie ‘n goeie tyd verwag nie. Dit het my gemotiveer om hierdie seisoen alles in te sit, veral omdat dit my laaste jaar op skool is,” het Diaan gesê.

Fullard het twee kinders op Lydenburg gehad. Hy het jaarliks sy alma mater se Facebook-blad dopgehou met die hoop dat daar ‘n atleet gaan wees wat ‘n nuwe tyd in die rekordboeke kan skryf.

“My kinders het my net altyd laat weet dat hulle pa se rekord nog staan. My skoolvriende en van die onderwysers het my dadelik geskakel om my te vertel dat my rekord na soveel jaar uiteindelik verbeter is,” het Fullard gesê.

Gerhard Fullard van Hoërskool Lydenburg by die interhoër van 1981.

Hoërskool Nelspruit se Marnus Kruger het by verlede jaar se interhoërbyeenkoms ‘n wentyd van 59,62 in die 400m-hekkies gehardloop. Diaan het in 2016 ‘n goue medalje om sy nek in dié item vir seuns o/17 behaal en is beslis ‘n groot aanspraakmaker vir ‘n podiumplek vir die atletiekskouspel wat vanjaar op 18 Februarie deur Hoërskool Barberton aangebied word.

Lees ook: Atletiek by Hoërskool Lydenburg lok groot skare

“Ek wil graag presies 55sek hardloop. Dit is ook die kwalifiserende tyd vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Ek het las van ‘n besering, maar met hoop, geduld en geloof glo ek dat ek my doelwit sal bereik,” het Diaan gesê.

In 2016 het Diaan na die SA’s deurgedring en ook sy Mpumalanga-klere in die 110m- en 400m-hekkies verwerf.

Hy het verlede jaar by die SA Kampioenskappe in Bloemfontein 12de in die 400m-hekkies geëindig en 10de in die 110m-hekkies.

“Ons as ouers is geweldig trots op ons seun, veral as jy in ag neem dat Diaan eers in gr.10 met atletiek begin het. Ons sien uit na wat hy in die toekoms gaan vermag,” het die atleet se ma Tania gesê.

Diaan het verlede jaar 709 ABSA-punte in sy sak vir sy eerste plek in die 110m-hekkies, ook by die interhoër, gesteek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button