Drie karatekas van die Witrivier Kimura Shukokai Karate Dojo het onlangs hul staal by die Kimura Shukokai Nasionale Kampioenskappe in Kempton Park gewys.
Dié kompetisie het op 29 Maart plaasgevind en sensei Babsie Roos, Surika Dierks en Miandi Dierks het teen 300 ander karatekas van regoor die land meegeding. Daar was selfs deelnemers van Mosambiek en Zimbabwe af.
Surika het ‘n brons medalje vir kata in haar afdeling ontvang, terwyl Miandi ‘n silwer medalje vir kata in haar afdeling gekry het.
Roos het gesorg dat sy met ‘n brons vir kumite, silwer vir die span-kumite en ‘n goue medalje vir haar kata wegstap. Sy het saam met Tania Lopes (van eMalahleni) en Nalita Gouveia (van Mokopane) aan die span-kumite deelgeneem.