Lowveld Rhinos gerat en slaggereed vir Kaapstad

Die Lowveld Rhinos se wedstryde teen die Ermelo Cheetahs was ten voorbereiding van die nasionale toernooi wat in Desember in Kaapstad plaasvind. Sewe spanne sal die Rhinos daar verteenwoordig.

Op Saterdag, 18 November, het die Lowveld Rhinos se binnenshuise hokkiespanne kragte teen die Cheetahs van Ermelo gemeet.

“Dit was ‘n goeie dag op kantoor,” vertel Joe Schoeman, die afrigter en eienaar van die Rhinos-klub.

Van die volgende uitslae is behaal:
Dogters
• o. 13A: twee gewen en een verloor
• o. 13B: twee gewen, een verloor en een gelykop.
Seuns
• o. 13: twee gewen en een verloor
• o. 14: al drie van hul wedstryde gewen.

Die wedstryde was nie net ten doel om vir die spelers speeltyd te bied nie, maar ook ter voorbereiding van die Pro Series Indoor (PSi) se nasionale toernooi wat in Desember in Kaapstad plaasvind.

LEES OOK: Brendan Peyper-koors loop hoog onder Laeveld-dames

Schoeman vertel dat dié klub in 2020 tydens die Covid-19-pandemie gestig is om ‘n aktiewe leefstyl te bevorder en die spelers nuwe vaardighede aan te leer. “Ons het baie vinniger begin groei as beplan, en toe besluit om ons fokus te verskuif na deelname aan byeenkomste en sodoende aan die spelers meer blootstelling te gee.”

Sedertdien het die Rhinos se o. 13-dogterspan met die klub se eerste goue medalje by die PSi nasionale toernooi in Pretoria weggestap, ‘n prestasie wat hulle in 2021 herhaal het. Die o. 11- en o. 12-dogters het verlede jaar onderskeidelik goud en brons gewen.

Sewe spanne neem aan aanstaande jaar se toernooi deel.

LEES OOK: Sterilisation initiative in Sudwala area prevents unwanted litters

“Die o. 13- en 14-toernooi begin op 13 Desember, en die o. 16- tot o. 18-afdeling skop die 17de af,” sê Schoeman.

Na die Rhinos se goeie vertonings die afgelope naweek, is hulle met ‘n goeie gees vir die nasionale byeenkoms wat net om die draai wag.

“Al sewe ons spanne is baie sterk. Ons sal graag goed in al die ouderdomsgroepe wil doen. Die klem van ons toernooi-deelname bly steeds blootstelling, en om ‘n hele nuwe wêreld van hokkie vir die spelers oop te sluit.”

 

Exit mobile version