Sport

IN FOTO’S: Kaatjies van die baan!

Een van die mees gesogte gholfdae op Laevelders se gholfkalender, Rooikat Wholesale Liquors se jaarlikse gholfdag, het 176 spelers van heinde en ver op die baan verwelkom. By elke putjie was daar iets om te doen en ook te drinke, wat in sommiges se geval groot pret besorg het en ander voorwaar soos die kaatjie van die baan laat voel het.

Daar is ‘n elle lange waglys vir dié gesogte dag, maar vir hierdie ronde het net 176 die ‘kat’ gemaak.

Verlede Donderdag, 9 November, het hulle hul rooi Rooikat-hoedjies opgesit, hul gholfstokke nader getrek en jolig van putjie na putjie by die Mbombela Gholfklub getoer.

Die Rooikat Gholfdag is al ‘n jaarlikse instelling op Laevelders se gholfkalenders, en vanjaar s’n het net weer eens bewys waarom dit so is.

Reeds met hulle aankoms is die spelers van kop tot toon met ‘n rooi breërand-Rooikat-hoed, ‘n koffiereisfles, Haig Club Clubman-whisky, ‘n gholfbal en ‘n eie pasgemaakte gholfhemp bederf.

LEES OOK: Gangster behind bars thanks to late warrant officer

Die tema van die dag was Let’s go bananas. “Heel gepas, want dit is waaroor die dag gaan: om dit saam te geniet,” vertel Rooikat Wholesale Liquors se Johan Breytenbach. Hy sê die formaat was ‘n Scramble-dryf-vierbalalliansie, waarvan die beste twee tellings per gat getel het.

JP Bessinger, Francois Loots, Jaco Potgieter en Gerhardt Sinden het oor twee rondes ‘n allemintige 115 punte ingesamel, wat hulle die wenners van die baan gemaak het.

Die Rooikat Gholfdag is dié onderneming se manier om hulle verskaffers en kliënte vir hul getroue diens en ondersteuning deur die jaar te bedank. “Tot dusver het ons nog net goeie terugvoer ontvang. Van ons verskaffers, kliënte en spelers,” kom dit van Breytenbach.

Hy meen ook dat die Rooikat Gholfdag nie ‘n gelyke in Mpumalanga het nie. “Ons gholfdag is per uitnodiging alleenlik, wat dit baie gesog onder Laevelders maak.”

LEES OOK: Rondloperteef veilig by Pro-Life, reun wandel steeds in Mbombela se strate

Uitgenooide spelers kom dikwels van heinde en ver om dié dag mee te maak. Omdat gholfspelers slegs per uitnodiging aan die dag kan deelneem, is daar geen kostes aan verbonde nie. ‘n R250-registrasiefooi is wel die oggend voor die spel ingewin om aan die Carli Breytenbach Trust te skenk.

Nes vorige jare is daar vanjaar ook baie moeite gedoen om die gholfspelers se dag op die baan op te kikker. By elke putjie waar hulle gaan draai het, was daar iets om te doen en ook te drinke, wat in sommiges se geval groot pret besorg het en ander voorwaar soos die kaatjie van die baan laat voel het.

Die dag is opgedra aan Christo van Staden van Platsak Witrivier, wat verlede Dinsdag oorlede is. Op die stuurwiele van elke gholfkarretjie is ‘n kort huldeblyk ter nagedagtenis van hom opgeplak. Van Staden was deur die jare ‘n getroue ondersteuner van dié dag.

Uit die 44 vierballe wat hulle beste voetjie tydens 19 rondes voorgesit het, is altesaam 25 van hulle vir hul pogings beloon. Dit is nie aldag wat 100 spelers pryse by só ‘n dag kry nie, nóg ‘n aspek eie aan dié een.

*Enige een van die foto’s kan gekoop word, deur ’n epos aan editorial@lowvelder.co.za te stuur.

Back to top button