Met 58-5 reken Rooikatte met Nelspruit af
'n Titaniese stryd was dit gewis toe die Rooikat Rugbyklub se eerste span Saterdag vir Nelspruit Rugbyklub van Mbombela 'n loesing gegee het wat hulle nie gou sal vergeet nie.
Die rugbywedstryd op Rooikatpark, Lydenburg, was net vriendskaplik, aangesien die amptelike Laeveldliga eers op Saterdag 7 Mei in Malalane afskop.
Die finale telling tussen die eerste spanne was 58-5 in die guns van die Rooikatte.
Vir die eerste span was die manne van die wedstryd Hilton Boshoff (voorspeler) en Jason Oosthuizen (agterspeler). Drie drieë is deur beide Boshoff en Oosthuisen gedruk. Die spelers Johan Voster, Christiaan Labuschagne en Neil Kemp het elk een drie aangeteken.
Lees ook: Wenakker-inwoners bederf by ontspanningsoord
Nelspruit se tweede span het beter daarvan afgekom en die twee spanne het met 14 punte elk gelykop gespeel.
Vir die Rooikatte se tweede span het Clinton Sibanyoni twee drieë gedruk, Mishan Flank het albei sy skoppe verdoel, en die manne van die wedstryd was Lawrence Ngwenya (voorspeler) en Sibanyoni (agterspeler).







