Laeveldse broers gekies vir Bassmasters in Amerika

Hulle is een van vyf spanne, die enigste een in Laeveldse geskiedenis, wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig.

Plaaslike hengelaarbroers, Ben en Frank Gottschalk, het hierdie keer ‘n gróte ingekatrol – die jaarlikse Bassmaster Spankampioenskappe van 2019 in Suid-Carolina, Amerika.


Hulle is een van vyf spanne, die enigste een in Laeveldse geskiedenis, wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig.
Hulle is al gewoond dat swartbaars van 3 tot 4 kg en selfs so swaar as 5,16 kg (Frank se beste) en 6,12 kg (Ben se beste) aan hul lyne byt, maar hulle kon hul geluk nie glo toe hulle vir dié gesogte kampioenskappe gekies is nie.

Hulle beskryf dit as hulle grootste vangs tot dusver. Die Laeveld word geken aan pragtige, breë viswaters met natuurskoon wat jou na jou asem laat snak. Luister jy egter na die beskrywing van Lake Hartwell waar Ben en Frank hulle lyne gaan ingooi, kan jy verstaan waarom dié twee plaasjapies, oorspronklik van die dorre Noordweste, skaars hul opgewondenheid kan bedwing. Frank verduidelik dat verskeie visse tydens die toernooi geteiken kan word, maar dat hulle visier spesifiek op grootbek- , gespikkelde en kleinbekbaars ingestel sal wees.

“Die kompetisie werk volgens ‘n uitklopstelsel. Die belangrikste twee reëls is dat die vis ‘n spesifieke grootte moet wees, en lewendig ingeweeg moet word. Hoe swaarder die sak, hoe beter is jou posisie op die punteleer. Met die groot waters wat ons aanpak, word drie oefendae gegee, waarna die kompetisie op 11 Desember afskop. Dag een sal bepaal wie aanbeweeg, en die proses sal so voortgaan tot die top 10 en uiteindelik die wenners op 14 Desember aangewys word,” vertel hy.

Hulle deelname in die plaaslike Lowveld Bass Trail van die afgelope vier jaar het hulle gehelp om te kwalifiseer. Hulle moes ten minste in die top ses eindig om deur te dring na die SABAA-spantoernooi superfinaal, waar hulle tweede plek behaal het.

“Dis soos ‘n droom, om amper elke naweek ons passie vir die water en natuur te kan uitleef. Nou is ons kans om die Laeveld, Mpumalanga en Suid-Afrika te verteenwoordig. Dit is asemrowend. Eerstens kan ons net die Here dank vir al sy seën, en dan natuurlik vir al ons familie, vriende, borge en medehengelaars het ons ook nie genoeg dankies nie,” vertel hy.

“Die droom van kleins af langs die oewer was altyd om ons eie bote te besit en te kan kompeteer. Ons het wel op ‘n tyd op die Natalse kus gebly en daar rots- en strandhengel beoefen, en selfs na ons terugkeer na die Laeveld vir ‘n tyd karphengel ook gedoen, maar daardie groen vissie het ons gou weer teruggeroep, en vining het ons besef waar ons hengelpassie werklik lê. Ons is oorspronklik van Noordwes af, maar ons moes die plaaslewe ongelukkig daar agterlaat,” sê hy.

Hulle ouers het later Witrivier toe verhuis, en dit is waar hulle passie behoorlik opgevlam het.

“Ons pa en oupa was kranige karp- en grootbekgeelvishengelaars. Ons het naby Primkopdam gebly, so ‘n hengeluitstappie was vinnig gereël, al moes ma met pa raas, want die dominee gaan weer wil weet waar pa en die seuns Sondag was. So het ons eendag nog langs die water gesit en wag vir die langlyne om te roer, maar ou Ben kon net nie sy rus inkry nie. Hy gooi in, los die lyn in vir ‘n minuut en dan katrol hy weer uit. So het dit vir ‘n hele paar uitstappies gegaan. Op die ou einde besluit my pa dat hy iets gaan aanskaf om die klein besige mannetjie nog besiger te hou. Hy gaan koop toe ‘n swartbaars-stok en katrol, en kunsaas, en so waar as vet gaan vang my broer sy eerste swartbaar op sy eerste gooi, van 2,5 kg,” vertel Frank. Nodeloos om te sê, het die gogga net daar die Gottschalk-gesin gebyt.

“Die karpstokke het vir lank net stof opgegaar, en ma se siel kon rus, want kerktyd was nie goeie tyd vir swartbaars nie,” skerts hy.
“Oefen… oefen… oefen,” sê hy is die enigste manier om tot op die vlak te kom. “Tyd op die water – ‘n swartbaar is ‘n vis wat verskillend reageer met seisoene, damvlakke, waterkleur, aaskleur, om maar net ‘n paar faktore te noem. “Baie geduld en navorsing is die geheim om groot visse te teiken, maar daar is natuurlik ‘n bietjie geluk ook betrokke. Navorsing is so vergemaklik deur die internet.

“Daar is honderde videos vrylik beskikbaar. ‘n Mens moet egter nie bang wees om plaaslike manne te nader nie,” vertel hy. Hy voeg by dat die Laeveld-damme hulle beslis gehelp het. “Ons damme het verskeie strukture, en verskillende bytpatrone wat jou blootstel aan meer maniere van hengel. Nie een dam is dieselfde nie.”

Die broers is besig met ‘n fonds-insameling waar hulle individue en maatskappye deur middel van Frank se Facebook-blad, Frank Gottschalk, nader om fondse te skenk. Frank kan by 072-191-2179 vir meer inligting geskakel word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version