Komatipoort Akademie se interhuis sorg vir groot pret

Ten spyte van die versengende hitte het leerlinge van Komatipoort Akademie met groot toewyding en in goeie gees Vrydag aan die interhuis deelgeneem.

Tydens Komatipoort Akademie se interhuis-atletiekbyeenkoms verlede Vrydag was dit veral die nuwelinge, die gr. 1’s, wat die huissport die meeste geniet het.

Hulle het gehardloop dat die stof staan en hulle kon nie gou genoeg by ma en pa, wat trots by die wenstreep gewag het, uitkom nie.

Die kleuterskool het ook hul gr. R-klassie vir ‘n wedloop ingeskryf en dié kinders het alles in die stryd gewerp om eerste by die eindstreep te kom nadat die skoot geklap het.

Die skool is in die Blou en Geel span opgedeel en vir die eerste keer in ‘n lang tyd was daar dirigente wat gehelp het met die aansporing, spanbou en lekker positiewe gesindheid wat die dag ‘n sukses gemaak het.

Die rasieleiers het by tye sommer hulle eie item op die program geskep, in goeie gees deelgeneem en só die toeskouers vermaak.

Wessel Luies en Sethu Mathebula ding in die 100m mee.

Die Blou span was die wenners en het 1 003 punte teenoor die 868 van die Geel span aangeteken.

Die onderwysers en gr. 8-leerders het hard gewerk by al die punte en is saam met die dirigente en toeskouers Maandagoggend tydens saalopening hartlik bedank.

Die atlete wat die meeste ASA-punte in hul onderskeie ouderdomsgroepe verwerf het, is as victor- en victrix ludorum van die dag aangewys: Austen Bhila en Siphokazi Mashabane in die afdeling o/7 tot o/9, Carl Mbata en Ashley Coetzee in die o/10- tot 0/13-afdeling, Kyle Rossouw en Christy Monteiro in die o/14 tot o/16’s, en Sethu Mathebula en Dominique van der Westhuizen in die groep vir o/17 tot o/19.

Sien meer foto’s hier.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version