Marais, Banda en Khoza goud werk

Hoërskool Bergvlam se verspringatleet, Maudas Banda, het nie net 'n goud verower tydens die ASA-kampioenskappe wat die afgelope naweek op Germiston Stadion plaasgevind het nie, maar loop ook nou breëbors rond met 'n nuwe persoonlike beste afstand van 7,50m.

“Ongelukkig het ek die kwalifiserende afstand vir die wêreldkampioenskappe met vyf sentimeter gemis, maar hoop om by die Suid-Afrikaanse Ope in Mei deur te dring. Ek wil net my afrigter, Johan Kruger bedank. Dit is alles te danke aan hom wat ek tot dusver behaal het – nie net fisies nie, maar ook verstandelik. Baie geluk ook aan my spanmaats wat ook ‘n medalje verower het.”

Tydens die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe in Bloemfontein het Banda ‘n teleurstellende afstand van net 7,12m gespring en moes met ‘n silwermedalje tevrede wees. Dit was wel ‘n nuwe rekord wat hy opgestel het.

Die jongeling van Hoërskool Rob Ferreira, Amos Khoza wat nou eers o/15 is, het aan die o/16-afdeling deelgeneem en ook ‘n eerste plek in die 800m verower. Hy het met ‘n tyd van 1:54,54 gewen. Nes tydens die Mpumalanga-kampioenskappe in Secunda en die SA’s, het hy wéér gewys wat hy werd is. Hy was in die Rosestad derde in dié item met 1:57,49. Hy het ook ‘n medalje in die 1 500m gekry.

Amos Khoza saam met sy afrigter, Jeanie van Zyl.

In Bloemfontein het Naas Marais (o/17) silwer in skyfwerp gekry met 53,93m, maar hierdie keer het hy die stang behoorlik vasgebyt en met ‘n afstand van 56,59m, en daarvoor gesorg dat Nellies met sy tweede SA atletiekkampioen vir 2016, kan spog (Werner Bouwer het in Bloem goud in die spiesgooi verower).

Marais het met sy vorige beste afstand, 55,75m, op Barberton sy kleim as Ehlanzeni se nommer een afgesteek. Om egter by die nasionale kampioenskappe, waar dit regtig saak maak, jou persoonlike beste te behaal, is enige atleet se droom. Marais en sy afrigter, DP Badenhorst, verdien werklik ‘n pluimpie.

Naas Marais.

Lowveld High se o/16-driesprongatlete, Nhlakanisipho Malungisa en Nolwazi Mashaba, het albei silwer gekry. Malungisa het ‘n agtste plek in Bloem gekry met ‘n afstand van 11,98m, maar het die keer ‘n beter poging aangebied met ‘n massiewe sprong van 12,47. Die wensprong was 13,27m. Mashaba het 11,24m ver gespring, effens korter as haar afstand in Bloemfontein van 11,05m.

Nóg atlete van LHS, Frank Muwayi (o/18) en Gugu Nkambule (o/20) het derde plekke in onderskeidelik driesprong en verspring verower. Muwayi spog met ‘n afstand van 14,33m – 0,75m verder as sy vyfde plek in Bloem. Nkambule, wat ook daar ‘n brons gekry het met ‘n sprong van 5,87m, het in Germiston 5,42m ver gespring.

By die ASA-kampioenskappe het atlete aan die o/16-, o/18-, o/20- en o/23-afdelings deelgeneem.

Goud
• Maudas Banda, verspring
• Amos Khosa, 800m
• Naas Marais, diskus

Silver
• Nhlakanisipho Malungisa, driesprong
• Nolwazi Mashab, driesprong

Brons
• Amos Khoza, 1500m
• Frank Muwayi, driesprong
• Gugu Nkambule, verspring.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version