Local sportSport

Swemafrigter koester groot drome

"Jy kom op 'n punt in jou lewe waar jy 'n besluit moet maak. Ek was self 'n goeie swemmer, maar ek moes 'n loopbaanbesluit neem. En dit is waarom ek hierheen gekom het."

“Ons hoop om ten minste meer as 10 swemmers na die Finswimming Wêreldbeker wat volgende jaar in Engeland plaasvind, te neem.” So sê die hoofafrigter van Finswimming Mbombela, Gideon du Toit.

Dié 23-jarige het sak en pak van Pretoria na die Laeveld verhuis nadat hy by die Players Swim saam met Grant Kritzinger afgerig het. “Jy kom op ‘n punt in jou lewe waar jy ‘n besluit moet maak. Ek was self ‘n goeie swemmer, maar ek moes ‘n loopbaanbesluit neem. En dit is waarom ek hierheen gekom het.”

Die klub is die eerste van sy soort in Mpumalanga en het aan die einde van Mei dié sport aan die plaaslike gemeenskap voorgestel. ‘n Hele paar van die Laeveld se swemmers, soos Christelle Kriel en Skye Munro oefen saam.

“Die klub het iets vreemds en lekkers na die Laeveld toe gebring en die mense hou daarvan.

“Dié manier van swem is ook iets nuuts vir my, maar ek hou van uitdagings. Ek sal swemmers kan help om te kom waar hulle graag wil wees.”

Du Toit het jare se ondervinding, nie net as afrigter nie, maar ook as swemmer. Hy het by die gerekende Stefan Cloete begin waar hy tot vlak drie gekom het en spog selfs met ‘n senior nasionale kampioenskap agter die rug. Sy spesialiteit was die 100-meter-vlinderslag met ‘n persoonlike beste tyd van 54:15.

“In 2008 het ek saam met Grant begin oefen. Hy word as een van Suid-Afrika se beste afrigters beskou en ek het baie kennis en ervaring by hom opgedoen. Hy was my mentor.”

Du Toit doen tans sy Amerikaanse Swem Afrigters Vereniging vlak drie kursus. Hier word na die liggaam se reaksies en aanpassings op sekere oefeninge gekyk en daar word ook na die beplanning van nuwe en meer ervare swemmers gekyk.

“Ek leer ontsettend baie by die kursusse en dit voel asof dit wat ek nuut leer, goed op my swemmers toepas.”

Om verdere kennis oor die redelike onbekende sportsoort in Suid-Afrika op te doen, gesels Du Toit gereeld met oorsese afrigters van Amerika om nuwe tendense in die sport aan te leer.

Back to top button