Trek jou kruisie voor jy kla

Gaan trek jou kruisie op 8 Mei, of bly stil.

Daar is drie dinge in die lewe wat ek nie kan hanteer nie. Die eerste is koue koffie. Dit is onnatuurlik en ek kan nie dink dat mense dit bloot in die mikrogolfoond druk en dink hulle het die probleem opgelos nie. Sies!

Die tweede ding wat ek nie kan hanteer nie, is klein hondjies met groter klerekaste as dié van hulle eienaars. Dié tipe hondjies word gewoonlik ook in ‘n handsak rondgedra. Dit dryf my sommer na koue koffie.

Maar die derde ding – en dit is seker dié belangrikste – is mense wat kla sonder om iets aan die ding waaroor hulle kla te doen.

Dit is die tannies wat heeldag by die huis sit en WhatsApp-boodskappe versprei waaraan geen waaheid kleef nie. Hierdie boodskappe vertel eksplisiet hoe ons land in gevaar is en hoe “niemand meer veilig is” nie, Die verspreiders daarvan is gewoonlik die einste tannies (en oompies) wat nie ‘n voet – of selfs ‘n toontjie – by die deur uitsteek om te gaan stem nie.

LEES OOK: X marks the spot this election day – #IMadeMyMark

Dan is daar die jong man met sy splinternuwe aktetas en blink sportmotor wat die heeltyd kla dat die ekonomie besig is om in duie te stort, maar wat nie gaan stem nie.

So ook die student wat kla dat sy peperduur vir haar studies moet betaal, maar nie gaan stem nie.

Ek gesels nou die dag met ‘n vriend van my – ‘n jong man met twee grade en ‘n goeie werk. Hy reken toe dat hy nie gaan stem nie “want my stem gaan in elk geval nie ‘n verskil maak nie”. In dieselfde asem sê hy toe: “Die hele blêrrie pad tot hier was vol potholes. Ek verstaan nie hoekom hulle dit nie net kan regmaak nie.”

Word wakker! Jy kan nie kla as jy nie bereid is om iets daaraan te doen nie.

Gaan trek jou kruisie op 8 Mei, of bly stil.

LEES OOK: Die dag toe sir my kar se spieëltjie vir hom vat

Exit mobile version