BlogsOpinion

Die dag toe sir my kar se spieëltjie vir hom vat

Was jy al ooit in 'n taxi-ongeluk betrokke?

“Excuse me sir. You can’t just stop in the middle of the road,” begin ek skree toe ek uit my kar klim.

Oomblikke vantervore het hierdie sir met sy taxi my kar se linkerspieëltjie verwoes en ek was lanklaas so kwaad.

“No hazards, hazards,” kom hy verduidelik. Dit is duidelik dat Engels nie sy eerste taal is nie.

“Just because you put your flickers does not mean you can stop where you like. There’s rules” skree ek en besef Engels is duidelik ook nie my eerste taal nie.

Sir klim toe terug in sy taxi vol passasiers en verduidelik in sy gebroke Engels dat ek hom na die nabygeleë polisiestasie moet volg.

LEES OOK: Daar is nie ‘n grys area as dit by rassisme kom nie

Die probleem was egter dat ons in die hoofstraat van KaBokweni gestaan het en ek so deurmekaar was soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartie-boks wat die rigting van die polisiestasie betref.

Sir jaag toe weg en ek probeer hom agterna sit terwyl ek die polisiestasie op my GPS soek.

Vir die volgende gedeelte om sin te maak, moet jy verstaan dat ek dikwels te veel vertroue in die mensdom plaas om die eerbare ding te doen.

So het ek in my hart geglo dat sir my by die polisiestasie gaan ontmoet en dat ons saam ‘n saak gaan oopmaak.

Toe ek daar aankom was daar egter geen teken van sir of sy taxi nie. En ek begin toe ween soos ‘n speenvark.

Nadat sy effens in haar mou vir my begin lag het, help ‘n konstabel my om ‘n saak oop te maak.

LEES OOK: Snaakse tafelmaniere by restaurante maak dat sommiges eerder tuis moet eet

Sy verwittig my toe van die feit dat ek nie juis uniek is nie, en dat hul sake met taxi’s vroeg-vroeg in die maand reeds op 31 gestaan het.  Sy sê ook dat die taxi-eienaars nooit opdaag nie.

Toe klim ek maar in my kar met af spieëtjie en tjank die hele pad huis toe.

Back to top button