Snaakse tafelmaniere by restaurante maak dat sommiges eerder tuis moet eet

Al gehoor van “Dine and Dash”? Dit is net een van die aaklige streke waarmee mense by ‘n restaurant vorendag kom.

“As dit pap reën, moet jy skep,” hoor ek die vrou wat nou die dag by ‘n buffetete agter my sit, vir haar man sê.

Ek sien hoe sy bord na bord opskep en hoe een gereg na ‘n ander ewe kunstig in foelie (wat sy natuurlik self saamgebring het) toegedraai en in haar handsak verdwyn.

Ek besef skielik almal het allerlei vreemde maniere – sommige slegter as ander – wanneer hulle ‘n restaurant besoek.

My ouma het altyd eerste na die badkamer gegaan nog voordat sy gaan sit, “want as die mense se badkamer skoon is, sal hulle kombuis ook wees” .

Die verpersoonliking van ‘n stofsuier agter my, ruk my gedagtes terug na die buffetete en die ander gaste wat ook wag om hulle pond vleis (en aartappels en groente en poeding) te eis.

My oog vang ‘n man wat in die hoek by ‘n swak beligte tafeltjie sit. Toe ek mooi kyk, sien ek hoekom. Hierdie vriend het, lyk my, nooit as kind geleer om sy mes en vurk te gebruik nie en sy hande dien as skopgraaf vir die hope kos wat hy in sy mond prop.

LEES OOK: 2019: NuwejaarsvoorNEEmens

Dan was ek al uit saam met mense wat so aaklig met die kelnerin was, dat sy begin huil het, en mense wat doodeenvoudig net nie aan ‘n fooitjie glo nie al was die diens van uitstaande gehalte. “Niemand gee vir my ‘n footjie omdat ek my werk reg doen nie,” kom die argument dan.

Een van die ergste slegte gewoontes is natuurlik die “dine and dash” oftwel die “maag vol, kom ons hol”. Dit is daardie persone wat sal eet en drink en dan net nie betaal nie. In my oë is dit seker die tipe ou wat pynappel op sy pizza eet ook.

Maar ek moet seker die balk ook uit my eie oog haal – ek het ‘n obsessie met die papieromhulsel wat om ‘n strooitjie kom. In enige restaurant sal ek die papiertjie in klein stukkies skeur. Hierna gil ek spontaan “konfetti” en strooi dit dan oor die tafel tot groot onsteltenis van al die gaste.

So het elkeen maar sy eie gewoontes in ‘n restaurant. Wat is joune?

LEES OOK: Editor’s note: Lowvelder’s new year’s resolution

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version