Dé! Vat my besigheidskaartjie

Almal onthou hulle eerste een...

Almal onthou hulle eerste een. Dit maak nie saak hoe oud jy was toe jy hom gekry het nie, jy sál dit onthou.

 
Party mense hou hom as ‘n aandenking  in ‘n boek iewers. Sommiges gebruik dit tot vandag toe (alhoewel dit dikwels as oudmodies beskou kan word). Party mense wil aan dit kan vat en voel terwyl ander dit digtaal verkies.

 
Hoe dit ook al sy, elkeen van ons onthou ons heel eerste besigheidskaartjie. So onthou ek ook die oomblik toe ek my heel eerste pak besigheidskaartjies ontvang het. Dit is met ‘n baie onseremonieuse “dê” op my tafel neergeplak.

 

Hierdie toneel het homself heeltemal anders afgespeel in my gedagtewêreld.

 

LEES OOK: Pen in my hand verwelkom André Bartlett

 

Ek dog: Die baas roep die hele kantoor tot stilstand en dan, sonder dat ek dit verwag, val daar skielik ‘n kollig op my. Die res van die kantoor se ligte is gedim. Daai Griekse liedjie wat hulle gewoonlik by gradeplegtighede speel begin weerklink en dan begin almal in die kantoor saggies saam neurie.

 
Ek word voorentoe geroep deur my baas en dan oorhandag hy die piece de resitance, my besigheidskaartjies, aan my met ‘n stewige handruk en ‘n klomp op die skouer. Hy sê iets soos

“onthou, met groot verantwoordelikheid kom groot beloning.”

Almal klap dan hande en gil en die kantoor is vir die res van die dag gesluit.

 
Dit is wat ek gedink het gebeur in elke liewe kantoor met elke liewe mens wat hierdie groot geskenk ontvang. Die platvloerse, alledaagse “dê” het my egter vinnig terug gebring aarde toe.

 
Ek het toe maar ‘n foto geneem en vir my ma gestuur want sy maak altyd ‘n groot ophef van alles. En toe kom die shap-emoji op WhatsApp deur. En my gemoed val verder.

 
Deesdae deel ek my kaartjie uit aan almal wat wil hê – of nie wil hê nie (selfs die karwagte by Checkers het al gekry). En ek sal een in ‘n boek gaan bêre as ‘n aandenking en die digitale weergawe iewers op ‘n wolk bewaar want al beteken dit nie vir ander baie nie, was dit ‘n oomblik wat ek altyd sal onthou.

LEES OOK: Teatergangers laat veel te wense oor

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version