BlogsFeaturesInnibos NuusLifestyleOpinion

Expat Innibos: Die afwagting oor feesgesprekke is groot

Waaroor praat 'n klomp Suid-Afrikaners deesdae as hulle by 'n fees saamtrek?

“Sal jy en Mattheus vir tien dae op jul eie regkom as ek vroeër Suid-Afrika toe vlieg om by Innibos te werk?” het ek in Oktober verlede jaar al versigtig-optimisties gevra.

“Hoekom nie? My hande is mos nie afgekap nie,“ het die antwoord verontwaardig van die wederhelf, die een met die altyd druk werkprogram, gekom.

Ek moet eenvoudig glo dat hulle sal regkom. Want op 24 Junie klim ek op die vliegtuig. Nelspruit toe. Mbombela toe as dit dan moet.

Ek is nuuskierig. Waaroor praat `n klomp Afrikaners deesdae as hulle by `n fees saamtrek? Ek is ongelukkig meestal blootgestel aan die kommentaar op sosiale media en nuuswebwerwe. Dit is, om die minste te sê, nie baie bemoedigend nie.

Bekgevegte en wedersydse beledigings is nog te wagte as die politiek of die regering die onderwerp van bespreking is. Maar selfs groepe wat ten doel het om Afrikaans te bevorder, of met `n onskuldige naam soos Lekkerlees Boekrak, spring die venynigheid nie vry nie.

Ek bieg. Ek het lank die gespreksdrade op `n groep soos Taalgoggas en Balbyters gelees vir die geniepsige woordskermutselings eerder as vir die taalles. Vandat die belhamels kortgevat of uitgeskop word en gesprekke kortgeknip word, is die besprekings vir my minder opwindend. Ek is mos `n joernalis en ons floreer daarop om te luister en te lees hoe ander mense baklei.

Iemand is die ander dag selfs uit die Lekkerlees Boekrak geskop omdat sy “ongeskik” was. Dié groep duld net mense wat op `n ordentlike manier van mekaar kan verskil oor die boeke wat hulle lees.

Menings op sosiale media is weliswaar seker nie `n weerspieëling van elke dagse gesprekke tussen gewone Suid-Afrikaners en Afrikaners nie. Tog kan ek nie help om te wonder wat alles om braaivleisvure en feestafels gepraat word nie.

Ek weet wel waaroor `n klomp Suid-Afrikaanse expats in Europa praat as hulle die dag saam braai. En dis beslis nie oor Jacob Zuma of die ANC of misdaad nie.

Daar is nie baie Suid-Afrikaners waar ons bly nie. Ons gaan ook nie uit ons pad uit om hulle op te spoor nie. Dit beteken nie as jy in die vreemde bly jy noodwendig met mede-expats vriende moet wees nie. Ons is wel vriende met twee Suid-Afrikaanse gesinne, een in Innsbruck en een naby Kitzbühel, met wie ons heelwat in gemeen het.

Een keer per jaar doen ons die expat-ding wanneer ons Liechtenstein toe ry vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse braai vir almal wat in dié streek bly waar Duitsland, Switserland en Oostenryk mekaar ontmoet.

Vanjaar se braai sowat twee weke gelede is minder goed bygewoon omdat baie reën vir die dag voorspel was. Dié wat hulle nie deur die voorspelling laat afsit het nie, is beloon met `n aangename (en droë) dag van samesyn rondom tafels wat oorgeloop het van die Suid-Afrikaanse lekkernye.

Gesprekke het gewissel van die voorspelbare wie, waar en hoekom tot wenke vir uitstappies en waar om Suid-Afrikaanse produkte te kry tot hoe gereeld ons in Suid-Afrika kuier. Ek het nie een keer gehoor dat iemand óf oor hul aangenome land óf oor hul geboorteland kla nie. Ons berugte president se naam is nooit eens geopper nie. Dit was verfrissend.

Ek wil glo daar gaan op Innibos ook wyer gepraat word as die land se probleme. Dat ons, as dit moet, in ordentlike moedertaal van mekaar sal verskil. Ons ry en vlieg per slot van sake duisende kilometers agter `n Afrikaanse fees aan.

 

 

Linda skryf weer vir ons

Linda de Beer is ‘n oud-verslaggewer van Laevelder en Beeld wat ses jaar gelede saam met haar man en seun op `n avontuur na Oostenryk vertrek het. Hulle bly in Tulfes, `n bergdorp met minder as 1 000 inwoners buite Innsbruck in Tirol. In die winter ski hulle en in die somer stap hulle die berge plat. Met sy sentrale ligging, is Innsbruck ook die ideale vertrekpunt om die res van Europa van te verken.

Ná `n werkpouse om as tuisblyma in Oostenryk gevestig te raak, het Linda verlede jaar met mening begin om `n vryskutloopbaan te vestig. Sy het `n internasionale kliëntebasis en word gereken as `n top-vryskutskrywer van die aanlyn-werkplek Upwork.

Linda sien uit daarna om tydens vanjaar se Innibos vir Laevelder en Muskiet te skryf. Sy gaan ook haar persoonlike indrukke in `n blog, ExpatInnibos, met ons deel.

Back to top button