Editor's noteOpinion

Dis swaar om 30 te word

My twintigs is in 'n oogwink verby. Die lewe het draaie met my gestap wat ek nie verwag het nie. Ek het prestasies en herinneringe wat ek vir altyd sal koester en verwyte wat ek hoop met die tyd sal vervaag

Op 21 Desember sal ek, as dit die liewe Vader behaag, my 30ste verjaardag vier.

Dertig. Dit is nie vir my maklik om te aanvaar nie. Ek kry myself verskriklik jammer. Ek is oor die muur, ‘n fossiel. Ek onthou hoe ek as 21-jarige aan 30-jariges gedink het as stokoud. Ek het gegril as mans van 30 plus by my aangelê het en hulle sommer aangespreek as “oom”.

Vandag is die bordjies verhang. Nou kyk jong latte na my en kry dié tannie van 30 jammer wat nog hoop om man te vang. Ek het onlangs geskryf oor my wrede ontnugtering toe ‘n getroude man my genader het in die hoop op ‘n gelukkie. Sommige lesers het my geroskam omdat ek manlike geselskap in kroeë opsoek. Sê my asseblief waar anders ek hubare mans kan ontmoet. Want by die kerk, werk en deur my drawwery het ek nog nie geholpe geraak nie.

Mans wat wel met my geselsies aanknoop by kuierplekke, is baie verbaas as ek hulle meedeel ek is 29 en maak hulle vinnig uit die voete. Ek ondervind dat die “rakleeftyd” van vroue korter is as dié van mans. Van my mansvriende het dit al duidelik gemaak dat ek moet planmaak omdat “my biologiese klok aanstap”. My ginekoloog het my ook gewaarsku dat my kanse om natuurlik swanger te raak skraler raak soos die jare aanstap en dat ek dit moet oorweeg om van my eierselle te vries.

Die familie peper my ouers met vrae oor of ek nou nog nie iemand spesiaals ontmoet het nie. “Sy raak nie jonger nie, jy weet,” het tannie Babs onlangs teenoor my suster opgemerk.

Mans ervaar nie dieselfde druk nie. ‘n Ongetroude man van 30 word bloot beskou as ‘n bachelor. Hulle word deur hulle getroude vriende beny omdat hulle nog hulle vryheid het en kan kom en gaan soos hulle wil. Hulle het hope tyd om te settle en kan kinders verwerk soos Abraham van ouds op 100-jarige ouderdom.

‘n Ongetroude vrou van 30 word beskou as ‘n oujongnooi. Sy word aangejaag. Dit voel soms as’t ware of die samelewing met ‘n sweep agter my aanloop en my dwing om ‘n sekere rigting in te slaan. Ja, ek wil graag trou en kinders hê, maar dit word ewe skielik van my verwag.

Ek word in ‘n hoek gedruk, gedwing om groot te word. Dit is nie genoeg om te begin werk en selfonderhoudend te wees nie. Dit hou net nie op nie. My ouers sit druk op my om ‘n woonstel te koop, want ek kan nie vir die res van my lewe huur nie. Net mense in hulle twintigs huur, mense van 30 plus moet koop.

Ek moet voorsiening maak vir my aftrede. My spaarrekening moet groei, ten spyte van stygende lewenskostes. Ja, dis ‘n werklikheid vir mense van alle ouderdomme, maar word meer dringend as jy 30 word.

Ek voel nie 30 nie. Ek voel nog altyd jonger as wat ek werklik is. Eighteen, going on 30. My twintigs is in ‘n oogwink verby. Die lewe het draaie met my gestap wat ek nie verwag het nie. Ek het prestasies en herinneringe wat ek vir altyd sal koester en verwyte wat ek hoop met die tyd sal vervaag.

Tyd staan nie stil nie. Dit wag vir niemand nie. Ons moet byhou of afval. Ek betree die dirty thirties, of ek nou daarvan hou of nie. Ek kan dit net sowel met styl en grasie aanvaar. Ek gaan heelweek feesvier. ‘n Mohito drink. Braai. Alles doen wat vir my lekker is.

Ek het sopas vir myself ‘n verjaardaggeskenk gekoop – ‘n splinternuwe paar New Balance hardloopskoene oor die internet (teen ‘n reuse afslag, soos dit ‘n spaarbewuste 30-jarige betaam).

Die lewe is werklik kort. Doen wat jou gelukkig maak. Hou op worry oor wat ander mense van jou dink. Streef daarna om jouself te verbeter. Don’t be a copy when you were born to be an original. En leef liefde!

Back to top button