Hoekom trou as jy nie net oë het vir een vrou?

As hy jou vanaand verneuk, hoe seker is jy hy gaan more by jou bly wanneer jy met kanker gediagnoseer word of verlam is na 'n motorongeluk? Deur dik en dun? Vir botter of vir wors

Ek is 29 jaar oud, enkellopend en wreed ontnugter. Wrééd, sê ek jou!

Ek glo aan ware liefde en soek ‘n man wat my onvoorwaardelik sal liefhê. Ek wil trou en die gemiddelde 2,3 kinders hê. Ek glo aan monogamiese (vieslike anglisisme, ek weet) verhoudings en sien nie die nut daarin om ‘n vaste verhouding aan te knoop as jy nie van plan is om getrou aan daardie een persoon te bly nie.

So is ek en ‘n vriendin, ook enkellopend, gisteraand na ‘n kuierplek hier in die stad (nié Stables), opsoek na intelligente (manlike) geselskap. Ons loop twee mans raak wat, vanweë hulle beroepe, nogal bekend is hier in die Laeveld.

Albei is baie aantreklik en getroud. Ons gesels heerlik met die een oor sy werk en alledaagse dinge in die lewe. Hy noem dat hy besorgd is oor sy vrou en babadogtertjie se veiligheid en dat hy graag nog ‘n veiligheidshek by sy huis wil laat aanbring wat hul slaapkamer van die res van die huis sal skei. Hy noem dat hy deeglik bewus is daarvan dat sy huidige beroep dalk eersdaags tot ‘n einde kan kom en dat hy moet voorsiening maak vir die toekoms. ‘n Plan B agtermekaar moet hê. Dis ‘n man met ‘n kop op sy skouers. ‘n Keeper, soos die Ingelsman sou sê.

Die ander een, daarenteen, ken nie eens my naam nie, maar maak nietemin my bra met een hand onder my trui los. Nogal met die linkerhand, waaraan ‘n silwer trouring pryk. Hy kyk my diep in die oë en vra ek moet hom in die badkamer ontmoet.

Geskok roep ek uit: “jy is dan getroud!” Hy reageer bloot deur te sê dat hy sy vrou al telkemale vir ‘n egskeiding gevra het. Asof dit iets aan die saak verander. Asof dit sy beplande ontrouheid regverdig.

Ek weet hoe lyk sy vrou. Sy is beeldskoon. Tien keer mooier as ek. Lank, nog langer donkerbruin hare, maer, atleties gebou, goed versorg. Grimering en valsnaels altyd keurig aangewend en aangeplak. Móói!

Hoekom kyk hy dan rond? Bevredig sy hom nie op fisiese of emosionele vlak nie of wat is die probleem? Terloops, ‘n goeie vriend van my glo vas ‘n man wat rondloop is soos ‘n hond wat skaapsteel – jy moét hom skiet, jy kry dit nooit uit hom uit nie.

Op pad terug huis toe wonder ek wat die einste vroulief doen terwyl haar man so skaamteloos flikflooi. Het hulle dalk ‘n verstandhouding? Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie?

Verlede jaar het ‘n ander getroude man my die hof probeer maak en toe ek hom vra hoe hy dit regkry om saans sonder ‘n skuldige gewete langs sy vrou in die bed te klim, was sy reaksie: “‘n man kan nie elke aand van dieselfde steak eet nie.”

Ek haat veralgemenings. Maar ek begin tog wonder: is daar nog enige ordentlike, beskikbare mans daarbuite wat glo aan ‘n leeftyd se geluk met net een persoon? Of het ek onrealistiese verwagtinge?

Is die punt van ‘n verhouding of huwelik nie juis om jou verbintenis tot daardie een persoon te bevestig nie? Hoekom die moeite doen en saam sewe sakke sout opeet as julle mekaar in elk geval verneuk? Is dit vir finansiële sekuriteit? Om iemand te hê wat saam met jou Kersfees en Nuwejaar kan deurbring?

Eggenote van mans (en vrouens) wat rondloop – hoe kry hulle dit reg om hulle maats alleen na geleenthede te laat gaan? Met so ‘n skaamtelose rokjagter aan jou sy, sal jy mos slapelose nagte hê. By wie lê hy vanaand? Wat is haar naam? Gaan hy ooit huis toe kom?

Hoe vertrou jy so iemand? Met enige iets of alles in jou lewe? Hy het dan voor God, familie en vriende beloof om jou vir altyd lief te hê en getrou aan jou te bly. As hy jou vanaand verneuk, hoe seker is jy hy gaan more by jou bly wanneer jy met kanker gediagnoseer word of verlam is na ‘n motorongeluk? Deur dik en dun? Vir botter of vir wors?

Dalk heg ek te groot waarde aan getrouheid. Die Bybel sê mos die liefde hou nie boek van die kwaad nie. Dit vergewe 70 maal sewe keer. Dis dalk wat hierdie vroue (en mans) doen.

Ek weet nie. Ek weet waaragtig nie meer nie. Maar die hoop beskaam nie. Dalk, net dalk, is daar tog ‘n deksel daarbuite vir hierdie pot. Iemand wat my waardes deel. Iemand wat my sal weeg en nie te lig sal vind nie.

 

 

Exit mobile version