Pastoor André Myburgh: ons sal eendag verstaan

As hy as 'n geestelike leier, wat oënskynlik toegerus was met al die nodige vaardighede om 'n krisis te hanteer, nie meer kans gesien het vir die lewe nie, watse hoop laat dit dan vir my as gewone mens?

Past. André Myburgh (58) se selfdood laat my bekommerd. Bekommerd oor die mensdom se welstand, in verskeie opsigte.

As pastoor moes hy tog dikwels mense beraad wat ook hulle lewens wou neem. Hy moes kursusse volg en opgelei word in traumaberading en hoé om iemand wat op die rand van ‘n afgrond staan, terug te trek. As hy as ‘n geestelike leier, wat oënskynlik toegerus was met al die nodige vaardighede om ‘n krisis te hanteer, nie meer kans gesien het vir die lewe nie, watse hoop laat dit dan vir my as gewone mens?

Dit is dalk juis waar die probleem inkom. Almal om past. Myburgh het moontlik gedink hy is sterk genoeg, hy kan dit hanteer. Daar is ‘n gesegde wat lui: die probleem met sterkwees, is niemand vra ooit of jy okay is nie.

Hoewel past. Myburgh nie self die brief gesien het van die Apostoliese Geloofsending van SA se hoofkantoor waarin hy vrygespreek word nie, het sy dogter, past. Leanie Erasmus, gesê dat hulle by ‘n vroeëre geleentheid wel met hom gekommunikeer het en gesê het “die ondersoek lyk positief”.

Ongelukkig het van sy lidmate hom reeds skuldig bevind en gekruisig. Leanie het vertel van hulle verwyte, hulle skewe kyk in winkelsentrums, dat dit haar pa geweldig diep geraak het.

Die Bybel leer ons om nie te oordeel nie, maar ons kan dit nie help nie. Dis die menslike natuur. Ons almal doen dit. Die meeste van ons het reeds vir Oscar Pistorius skuldig bevind – ek inkluis.

Past. Myburgh se selfdood wys ons egter opnuut op die gevare van (voortydige) oordeel. Dit kan ‘n (onskuldige) mens oor die afgrond dryf. Kom ons veronderstel past. Myburgh was wél skuldig aan een of ander misdryf, gee dit ons dán die reg om hom te veroordeel en tot ‘n vroeë graf te dryf?

Maak nie saak wat jou geloof is nie, daar is ‘n les vir ons almal hieruit te leer: leef en laat leef. Jou woorde, jou dade, is nié sonder gevolge nie en kan iemand anders onherstelbare fisiese of emosionele skade berokken.

Dit beteken nie ons moet anderpad kyk as ons korrupsie vermoed nie, maar ons regsisteem het dalk ‘n punt beet met die uitgangspunt van “onskuldig tot anders bewys”. Hanteer sulke gevalle met die omsigtigheid wat dit verdien.

My sielkunde-dosent op varsity het altyd gesê dat, iemand wat sy eie lewe neem, reeds alle ander opsies oorweeg het en dat hierdie vir hom die absolute laaste uitweg was.

Ek is ‘n Christen en hoop hierdie teksvers (1 Korintiërs 13:23) bied ‘n mate van vertroosting vir almal wat past. Myburgh persoonlik geken het: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Exit mobile version