Editor's noteOpinion

Just Wanna Say – Week 12

Ma het altyd gesê dit help nie jy lyk soos ‘n witgepleisterde graf; van buite opgezoosh en van binne vol doodsbeendere nie. Ek het altyd vir my kinders gesê dat die gesig van ‘n engel en die maniere van ‘n vark nie aan een tafel sit nie. Almal van ons ken soortgelyke sêgoed en clichés. …

Ma het altyd gesê dit help nie jy lyk soos ‘n witgepleisterde graf; van buite opgezoosh en van binne vol doodsbeendere nie. Ek het altyd vir my kinders gesê dat die gesig van ‘n engel en die maniere van ‘n vark nie aan een tafel sit nie. Almal van ons ken soortgelyke sêgoed en clichés.

Ja, dit help jou niks. Geen geld in die wêreld, geen magsposisie, gladde gevreetjie of blink skoentjies gaan help as jy met ‘n engelgesig nie eens die eenvoudigste maniere, dankie en asseblief, het nie.

Ekself is nou nie juis ‘n lopende voorbeeld van Emsie Schoeman se boek, Goeie Maniere nie, veral nie wanneer die Kaapse lingo so deurslaan nie, en ek kan ook die “wat kyk djy vi my“-kyke uitdeel, daai wat geen taal nodig het nie. Maar van dankie en asseblief weet ek wel.

Dit verg nie moeite of geduld nie. Dit vra nie dat jy deel van Mensa moet wees nie. “Dankie” en “asseblief” moet saam met babamelk ingegee word, so onlosmaakbaar deel word van elke mens soos jou nersderm, wat vir ‘n doel so ‘n derm ookal dien. Soos daai derm, moet jy nie aan hom dink nie, dit moet val van jou lippe wanneer dit moet.

“Ek soek koffie” teenoor “mag ek asseblief koffie kry?”. Stilte teenoor “baie dankie”.
Skynheilig hoef jy ook nou nie te wees nie en jy hoef ook nie takt te druk tot verby lieg se punt nie.
As die koffie dan nou nie vorentoe smaak nie, sê ten minste, “Baie dankie vir jou moeite,” of net plein “dankie”.

Ek is ook nou al deurdik gehamer oor die maniere-ding, so asseblief, begin tog net met dankie en asseblief onder jou eie dak, dan sal die kindertjies by jou leer. Baie dankie.

Back to top button