Editor's noteOpinion

Irma Green writes:

Enigiemand wat al die voorreg gehad het om Madiba te ontmoet, sal kan getuig dat hy werklik spesiaal was.

Dit was ‘n mooi week. Ons het laas hierdie euforie van eenheid beleef met die 1995 Rugby Wêreldbeker en in 2010 met die Sokker Wêreldbekertoernooi wat in Suid-Afrika aangebied is. Enigiemand wat al die voorreg gehad het om Madiba te ontmoet, sal kan getuig dat hy werklik spesiaal was. Ons hoef nie almal dieselfde te voel oor sy heengaan nie, maar dat hy ‘n wêreld-impak gehad het, is verseker.

Sowat 14 jaar gelede was daar ‘n spesiale geleentheid waar Douw Steyn, ‘n groot versekeringsreus, vir Madiba sy eie “Camp David” in die Waterberge gebou het. Ek was die enigste joernalis wat die geleentheid bygewoon het, en moes bloot sorg dat die persverklaring en foto’s ná die geleentheid aan die nasionale media versprei word. ‘n Vriend van my was deel van die maatskappy wat dit georganiseer het, en so het ek dus my toegang verkry.

Slegs 80 gaste vanoor die wêreld het bymekaargekom en omdat dit ten tye van die Mej. Wêreld-kompetisie was wat in Sun City gehou is, is die skone dames ook ingevlieg om kleur aan die geleentheid te verleen. Ons is almal eers na die huis geneem met wildbesigtigingsvoertuie en hier het ons by die ingangspaadjie na die huis vir Madiba gewag. Hy het stadig na die voordeur gestap en almal eers gegroet. Voor by die deur het PJ Powers hom pragtig toegesing voor die groot rooi lint geknip is.

Madiba het heel voor saam met Steyn deur die huis gestap met ons almal wat hulle gevolg het. Dit was ‘n lekker leefhuis in die hartjie van die bos. Hier sou hy net kon ontspan en saam met sy familie kuier.

Almal is daarna tot in die middel van die wildsgebied geneem waar ‘n onthaal gehou is en vermaak uit die boonste rakke aangebied is. Ek moes myself kort-kort knyp, want dit was amper te goed om te glo dat ek daar kon wees. Daardie dag het ek die Madiba-magic ervaar en hom sien shuffle op die musiek van die Umoja-dansers.

Dit was baie lank gelede, maar ek kon hierdie week weer daardie spesiale herinnering oproep. En al het miljoene mense dit reeds gesê: “Rus in vrede, Tata.”

Back to top button