Editor's noteOpinion

Irma Green writes…

Ontvoerings, sluipmoorde, plaasmoorde, politieke moorde. Woensdagaand was daar 'n lokval waarin daar op sekuriteitsbeamptes wat houtdiefstal ondersoek het, geskiet is.

Ontvoerings, sluipmoorde, plaasmoorde, politieke moorde. Woensdagaand was daar ‘n lokval waarin daar op sekuriteitsbeamptes wat houtdiefstal ondersoek het, geskiet is. Die lysie van skokkende misdade wat ons samelewing bedreig, word by die dag langer.

Na ‘n week waarin die ontvoering van twee plaaslike tieners die plaaslike nuus oorheers het, staan ek in ongeloof oor hoe blatant misdadigers geword het en hoe hulpeloos ons as gemeenskappe voel. Hoeveel van u dink: “Dié varke gaan aan die pen ry”, of ,”ons polisie sal hulle vang en laat boet”? Ek doen nie.

Sondagaand kyk ek Carte Blanche en die doen en late van Radovan Krejcir is die hoofstorie. Dit is soos ‘n Hollywood-drama. Daar is ‘n lys van lyke in sy bisarre verhaal, sluipmoordaanvalle, bomme wat geplant word en vreemde aanvalle wat die filmwêreld se spesiale tegnieke na ‘n kleuterskoolkonsert laat lyk. En dan kom die verduideliking van ‘n hooggeplaaste polisiebeampte wat meen dis net entrepreneurs wat van mekaar verskil wat tot hierdie insidente lei.

Regtig? Onskuldige mense sterf in die proses. En elke liewe dag sien ons dit om ons gebeur. Mense wat soos diere afgemaai word, kele wat afgesny word – verlede week weer ‘n man wat met kookwater verbrand is en dié week ‘n video wat die werklikheid van ‘n plaasaanval uitbeeld.

Met ‘n hart wat in my keel klop het ek gesit en kyk hoe die gewapende mans by die plaashuis inbreek en by elke kamer ingaan op soek na buit.
Ons voer onderhoude met misdaad-slagoffers en hulle vertel ons hoe hulle voel toe hul wakker word en daar drie gewapende mans lang hul bed staan. Die angswekkende werklikheid wat deur jou gedagtes gaan as jy die dood in die gesig staar.

In Hazyview kryt die gemeenskap ons al uit as ons die harde werklikheid uitlig. Hulle wil hê ons moet stilbly – ons glo die waarheid moet uit (soos in ‘n vorige kolom oor berig is).

Dit voel of die situasie nou totaal buite beheer geraak het. Hoe klink die volgende verhaal? In ‘n gewapende roof sterf ‘n man en sy vrou oorleef terwyl die diewe met onder andere hul selfone en skootrekenaars ook wegkom. Die afgelope twee jaar, plaas die aanvallers gereeld foto’s van hulself op haar man se Facebook-profiel. Die polisie is ingelig maar niks het tot dusver gebeur nie. Dit was ‘n storie in die nasionale media hierdie week.

As die media die polisie kritiseer, is dit nie ongewoon dat ons gebel en uitgeskel word nie. Maar waar gaan dit alles eindig?

Ons wil almal graag in ‘n land bly waar elke landsburger voorspoed kan ervaar. Dis miskien naïef om te dink dit sal gebeur, want armoede en ander sosiale omstandighede staan in ons pad. Ek wil egter aandring op my grondwetlike reg om veilig te voel. Die handves van mensregte bepaal dat dit ons reg is om vry te wees van alle vorme van geweld, hetsy van openbare of private oorsprong, asook die reg om nooit gemartel te mag word nie. Die belangrikste is egter ons reg op lewe. En lewe beteken in die Suid-Afrikaanse konteks duidelik nie meer veel nie.

Dit is ‘n somber prentjie. Hier in sonnige Suid-Afrika met die mooiste berge, bosveld, sonsondergange en wit strande wat ons kan geniet, moet ons elke dag oor ons skouer loer want dit kan dalk ons laaste een wees.

Back to top button