Selfdood: dis nie vir ons om te oordeel

Louw hét gewag tot die volgende dag. Pieter en Johnny ook. En dinge het nie beter gelyk nie. Dit was nie anders nie

Die Nelspruitse gemeenskap is hierdie week geruk deur die vermoedelike selfdood van Louw Zevenster, BUCO se finansiële bestuurder. Ek verwys daarna as vermoedelik omdat slegs ‘n forensiese ondersoek deur die polisie dit sal bevestig.

Net gisteroggend (Donderdag) is Johnny de Jager se lyk ook ontdek nadat hy klaarblyklik homself opgehang het.

Twee weke gelede het nóg ‘n bekende inwoner van die dorp, Pieter Rösner, ook vermoedelik homself om die lewe gebring.

Die kenners sê dat selfdood toeneem soos die jaar einde se kant toe staan. Hulle sê mense kyk terug op die jaar wat verby is en hou nie van wat hulle sien nie. Hulle is nie tevrede met wat hulle bereik het nie en voel meer eensaam as ooit tevore.

Volgens die Wêreld Gesondheids-organisasie, neem iemand elke 40 sekondes sy eie lewe. Dit kom neer op ‘n miljoen mense per jaar, wêreldwyd.

Ek het al tientalle stories oor selfdood gedoen en baie van die tonele self bygewoon. Ek het gevind dat dit verspreid voorkom en nie tot ‘n spesifieke maand beperk is nie.

Ek is in 2008 persoonlik geruk deur die selfdood van ‘n dierbare vriend (in Februarie). Ons, sy vriende, was totaal en al uit die veld geslaan omdat ons dit nooit van hom verwag het. Stephan was altyd die oopkop ene, die logiese een wat ‘n oplossing vir alles gehad het. Eers ná sy dood het ons uitgevind van die dubbele lewe wat hy gelei het, dat hy al by ‘n psigiatriese inrigting behandel is vir depressie. Ons het van niks geweet nie. Niks vermoed nie.

Ek worstel tot vandag toe met sy dood. Ek wil hom so graag “wakker maak” en hom vra of hy dit weer sal doen. Ons wat agterbly sit met só baie vrae. Kon hulle nie maar net wag tot die volgende dag nie? Dan skyn die son weer en alles lyk beter. Louw hét gewag tot die volgende dag. Pieter en Johnny ook. En dinge het nie beter gelyk nie. Dit was nie anders nie.

Mense se reaksies op selfdood is uiteenlopend. Die meerderheid beskou dit as ‘n uiters selfsugtige ding om te doen, lafhartig boonop.
Ek weet darem nie. Om op ‘n punt te kom waar jy deurdruk en die sneller trek. Dit vat durf, dit vat moed.

Intussen het ek besluit om nie te oordeel nie. Ek het nie ‘n tree in sy/haar skoene gestap nie en weet nie watter hel hulle dalk hier op aarde moes deurmaak nie. Aan die res wat agterbly en ‘n ongelooflike trauma moet verwerk, sterkte en my innige meegevoel. Jou man, vrou of kind – wie ookal jy aan selfdood moes afstaan – het dan self nie die antwoorde gehad nie, ons gaan dit ook nie in hierdie leeftyd kry nie.

Exit mobile version