Editor's noteOpinion

Irma writes:

Die goue reël is, as jy nie daardie inskrywing met jou gesig daarby op ‘n reuse-advertensiebord sal sit nie, moet dit nie op FB publiseer nie.

As jy enigiemand in ons familie vra waar hul gunsteling-vakansieplek is, kom die antwoord soos uit een mond, Mosambiek. Die liefdesverhouding kom al van lank voor die oorlog wat in die 70's uitgebreek het. My eerste vakansie op drie maande was in Ponta d'Ouro in die suide van die land. Daarna het ons aanhou gaan totdat ons amper een dag in 'n padblokkade geskiet is toe ek sowat vier jaar oud was. Na die Frelimo/Renamo-burgeroorlog, was ons van die eerstes wat dit gewaag het om terug te keer. Nou was ek in my twintigs. Die padblokkades met gewapende magte was steeds oral te siene en ons het maar elke keer dit met versigtigheid benader. Ek was toe reeds as 'n joernalis werksaam en het gereeld berig oor besoekers wat geskiet is. Die toestande was haglik, soos dit lyk na 'n oorlog. Van 'n pad was daar geen sprake nie. Dongas so groot dat 'n hele voertuig daarin kon verdwyn, was die norm. Wat vandag slegs 'n uur neem om van die Ressano Garcia-grenspos tot in Maputo te ry, het in die vroeë negentigs sommer baie ure in beslag geneem. Ons het min kontant saamgeneem en ons het baie ou klere, blikkieskos, brood en sigarette as betaalmiddel gebruik. Met ruilhandel het ons pragtige curios gekoop en by die menige strandrestaurante kon jy vir 'n appel en 'n ei aan die heerlikste seekosgeregte weglê.

Soos die jare aangestap het, is 'n hoofweg gebou, die stad het 'n nuwe baadjie aangetrek en is biljoene dollars daar belê. Daar is min plekke waar jy so 'n kosmopolitaanse gevoel kry as by 'n middagete op Costa do Sol se stoep, omring deur mense wat menige nasionaliteite verteenwoordig.

Ek het die af 20 jaar wyd gereis in die land – van die suide tot ver noord by die Archipelago met sy wêreldklas-oorde, wit strande, turkoois waters en ongelooflike seelewe. Selfs prins Harry van Brittanje het al hier kom vakansie hou. Dus was die nuus van 'n oplewing in hernude geweld tussen die Renamo-rebelle en die regering van pres. Armando Guebeza, 'n skok. Ons het inderdaad verlede week die deposito betaal vir 'n heerlike wegbreek wat in April 2014 vir ons wag!

Op die vooraand van die Kersvakansie waar derduisende toeriste deur die grens stroom om met vakansie te gaan, is dié nuus kommerwekkend. Hoewel die skermutseling hierdie week net meer as 'n duisend kilometer noord van Maputo plaasgevind het, beteken dit nie dis waar dit kan bly nie. Berigte tans dui aan dat sowat 36 mense reeds dood is, maar niemand wil dit bevestig of ontken nie.

In dieselfde asem leef die rykes in Maputo ook in vrees vir ontvoerings. Dié nuwe misdaad-tendens het ook hierdie week opgevlam toe nog sulke gevalle aangemeld is. Ek het Dinsdag met 'n familievriend van so 'n familie gesels en hulle het toe nog nie eens van die ontvoerders gehoor wat die losprys is nie. Ook dié familie bevind hulle nou in Nelspruit waar hulle eiendom gekoop het.

Dit sal 'n hartseer dag wees as dinge daar weer handuit ruk.

Back to top button