Editor's noteOpinion

Doodsengel op die pad

Die verantwoordelikheid begin by jou. Jy het nie die reg van weg nie. Al is die lig groen. Al het jy eerste by die stopstraat gestop. Dink vir ander padgebruikers, want hulle dink nie vir hulleself nie.

Sestien mense het op Mpumalanga se paaie omgekom hierdie naweek.

Die eerste sewe is dood toe ‘n taxi en ‘n Nissan Xtrail in ‘n tromp-op botsing was op die N4 by Karino vroeg Vrydagoggend.

Ek is uit soontoe en wat my daar begroet het, was aaklig. Een van die dooies se bors en maag was oopgekloof en hulle het almal duidelik slegte beenbreuke opgedoen.

Die vyf dooies in die taxi het mekaar waarskynlik dood geval omdat hulle nie veiligheidsgordels aangehad het nie. Boonop bars jou organe as hulle op impak teen mekaar stamp en jy nie vasgegordel is nie.

Daar is niks glorieryks daaraan om in ‘n padongeluk dood te gaan nie. Jou lyk lê ure vasgepen in die wrak en wag op ‘n lykswa om verwyder te word.

Jy word in ‘n plastiekkrat of staaltrollie gelaai en na die staatslykshuis gevat sodat ‘n lykskouing op jou gedoen kan word.

As joernalis leer jy om die dooies as blote stukke vleis te beskou. Jy kan niks meer vir hulle doen nie. Dit bly egter iemand se ma, pa, suster of kind.

Ek laai die storie op Laevelder se webtuiste, foto’s en ‘n video van die toneel. Lesers spekuleer oor wat moontlik die oorsaak van die ongeluk was en blameer verkeersbeamptes se onbetrokkenheid daarvoor.

Ek ry huis toe om te gaan stort en skoon aan te trek. Op pad soontoe ry ek oor ‘n groen verkeerslig en moet skielik remme aanslaan soos ‘n taxi doodluiters oor die rooi lig ry.

Ek sien hoe ‘n pa ‘n Volkswagen Golf bestuur, met ‘n kleuter op sy skoot. ‘n Vrou sit langs hom, ook met ‘n kind op haar skoot.

Ek het al gedink ek moet ‘n foto-album in my kar hou – vol foto’s van al die grutonele wat ek al gesien het – sodat ek hierdie padvarke kan aftrek en hulle wys hoe hulle gaan opeindig.

Ons almal ken die reëls. Ons weet ons moet by die spoedgrens hou, nie ander voertuie op sperstrepe verby steek nie en ons veiligheidsgordels aansit.

Die verantwoordelikheid begin by jou. Jy het nie die reg van weg nie. Al is die lig groen. Al het jy eerste by die stopstraat gestop. Dink vir ander padgebruikers, want hulle dink nie vir hulleself nie.

Back to top button