Diefstal van as laat families verslae

Vandalisme in begrafplaas veroorsaak hartseer onder families, ook die groepsredakteur Irma Green.

Verslae, hartseer en geskok. Dis hoe ek dié week gevoel het toe dit aan die lig gekom het dat my pa se as ook uit die Nelspruit-begraafplaas se gedenkmuur gesteel is. Moenie eens praat van die spyt dat ek nie ‘n paar maande gelede toe hierdie vandalisme die eerste keer nek uitgesteek het, dit gaan verwyder het nie. Hoewel dit die siel van die mens is wat van belang is en die as maar net die klein bietjie oorskot is van daardie spesiale iemand in jou lewe, gee daardie “plekkie” in die gedenkmuur vir ‘n mens afsluiting en bring finaliteit.

Die laaste keer wat ek by die muur was, was een ysige oggend vroeg toe ons besluit het om nie ons oefensessie dié dag by die nabygeleë gym te hê nie, maar om die varsheid van ‘n wintersoggend te gaan ervaar. Beide ek en my destydse gym-maat het geliefdes daar gehad en ons het so ‘n rukkie afgestaan om mooi herinneringe op te roep.

Toe daar hierdie week nuwe klagtes by ons uitkom, het een van ons joernaliste weer die begraafplaas besoek en hordes gedenkplaatjies in stukke op die grond gekry en slegs die oop gate in die muurtjie waar geliefdes se as eens was. Ek het my swaer gevra om te gaan kyk of als nog reg was met my pa en broer se gedenkplekke. Die nuus dat my pa se as weg was en sy plaatjie ook op die grond gegooi is, het ek met groot hartseer ontvang. Hoe is dit moontlik dat daar mense is wat geen respek aan afgestorwenes kan toon nie? Waarvoor word die as gebruik?

Ek sidder behoorlik as ek daaraan moet dink dat my pa in ‘n moetie-pot geëindig het. Of dat die waarde van ‘n koperpotjie werklik soveel kan wees dat selfs nie die gestorwenes gerespekteer word nie. Ek kan al hoor hoe my pa sou probeer troos en sê “daardie hopie as is nie ek nie.”. Ek sou dit soveel eerder by die see wou gaan strooi of dalk by Askham se wêreld waar hy dood is. Ons het gistermiddag my broer se as gaan uithaal en sal ‘n gepaste tyd en plek soek om syne te strooi. Sy kinders het die see voorgestel, dalk Mosambiek waarvoor hy so lief was. En so word hierdie optrede nog ‘n simbool van absolute wetteloosheid wat in ons samelewing heers – ‘n samelewing waar daar lankal nie eens meer respek vir die lewendes is nie, hoe op aarde kon ek dink daar moet respek vir die dooies wees?

Exit mobile version